Tarryn Rhaman (menslikehulpbronnebestuurder by Mediclinic Paarl) en Florina Julies (skoolhoof van Bergendal Primêre Skool, Suid-Agter-Paarl).


Twee skoolhoofde van die Wynland-streek in Paarl en Franschhoek is onlangs erken vir hul deelname aan die Partners for Possibility-program.

Dit is ’n leierskapsprogram wat aangebied word deur Citizen Leader Lab, voorheen bekend as Symphonia for South Africa. Citizen Leader Lab is ’n organisasie wat internasionaal sowel as plaaslik erken word vir sy bydrae tot die ontwikkeling van skoolhoofde.

Volgens Jessica Batts, die fasiliteerder van die program in die Wynland-streek, word dit aangebied in samewerking met vrywilligers uit die sakesektor, afgetrede professionele mense of private individue wat passievol is oor opvoeding en glo in die bemagtiging van skoolhoofde.

“Die vennootskappe skep die geleentheid vir die oordra van kennis en deel van ondervinding, maar ook die moontlikhede vir die ontginning van groter netwerke met die sakesektor en gemeenskappe rondom die skool,” sê Batts.

Van die punte wat Batts onderskryf het, sluit in:

. Ouerbetrokkenheid bly ’n groot fokus van elke skool, en skoolhoofde en die skoolbestuur is kreatief om die intervensies en interaksies met ouergemeenskappe te bevorder;

. Leesvaardighede word aangedurf deur die inrigting van leeshoekies, opgradering van biblioteke en om ’n kultuur van lees te vestig deur dit met kreatiewe speletjies te kombineer; en

. Loopbaanondersteuning van leerders om die oorgang van primêre na sekondêre skool te vergemaklik.

“Ek haal graag vir Lielanie Brinkhuis van die Johan & Gaynor Rupert-stigting, in vennootskap met Wes-Eind Primêre Skool, aan. Sy sê dit was vir haar ’n groot voorreg om deel te kon wees van die program.

“Ek het ontsettend baie geleer. Ek is met ope arms deur die personeel en leerders ontvang. Dit was opvallend om te sien dat, ongeag ons skole se groot uitdagings, daar ’n baie mooi samehorigheid en spangees onder die personeel is,” sê Batts.

Tarryn Rhaman, die menslikehulpbronne-bestuurder van Mediclinic Paarl, in vennootskap met Bergendal Primêre Skool, voeg by: “Dit was ’n ongelooflike reis van persoonlike ontginning en leer, en ek het weer eens besef dat jy nie altyd al die antwoorde hoef te hê nie.”

Batts het verder haar opgewondenheid uitgespreek oor die suksesse wat ’n uitvloeisel is van die vennootskappe, asook dat sy dankbaar is vir al die ondersteuning en alle bydraes aan die skole.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article