Aansoeke het pas geopen vir die 2025 Masakh’iSizwe (MiS)-beursprogram-inname.
Die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Augustus.
Die MiS bied beurse vir voltydse studie vir ’n graad of diploma in die vervoer-, ingenieurs- en infrastruktuurdissiplines. Dit is deel van die departement se strategie om die vaardigheidskaarste in die infrastruktuursektor te versag.
Die departement het ’n vennootskap met vooraanstaande hoëronderwys-leerinstellings soos die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Kaapstad en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie vir hierdie program. Tussen die 2019- en 2024- akademiese jare het die departement 865 beursontvangers bygestaan om hul drome na te streef om deur vennoot-hoëronderwysinstellings te studeer.
In dieselfde tydperk het 185 studente gegradueer, met 135 in diens van die departement en private sektor. Tans word ’n bykomende 15 gegradueerdes geplaas.
Die impak van die program was beduidend vir begunstigdes. Een so ’n begunstigde is Allison Klaasen van Saron, wat met nege onderskeidings geslaag het en tans in die vervoerinfrastruktuur-tak werk.
Allison is deur haar ouma grootgemaak.
Terwyl sy besin oor wat hierdie geleentheid vir haar beteken, het Allison gesê: “Ek wys vir die jeug van Saron dat iemand soos hulle ’n graad in siviele ingenieurswese aan ’n gesogte universiteit kan verwerf terwyl hy of sy ’n baie manlik-oorheersde bedryf kan infiltreer. Ek wil hê die jeug van Saron moet glo dis moontlik om ’n professionele mens in hierdie bedryf te word en dis ook hoekom ek vir die departement wil werk.”
Die Wes-Kaapse LUR vir infrastruktuur, Tertuis Simmers, het vroeër vandeesweek die 2024-’25-begroting vir die departement van infrastruktuur en die verhoging in die toewysing van geld vir MiS van R12,208 miljoen in die vorige boekjaar tot R12,756 miljoen aangekondig.
Simmers het gepraat oor die belangrikheid daarvan om so ’n beursprogram as deel van die Wes-Kaapse regering se belegging in die infrastruktuursektor te hê. “Deur in die opvoeding en toekoms van ons jeug deur inisiatiewe soos die Masakh’iSizwe-beursprogram te belê, bou ons nie net brûe na geleenthede nie, maar lê ons ook die grondslag vir ’n blinker en meer voorspoedige toekoms vir die Wes-Kaap.”
Die beurs dek verskeie uitgawes, soos klasgeld, ondersteuningsprogramme om te verseker dat akademiese prestasie op koers bly, verblyf, etes en/of vervoer. Hierdie omvattende ondersteuning stel studente in staat om sonder finansiële struikelblokke op hul studies te fokus.
Aansoekvorms is reeds van Maandag (1 April) by www.westerncape.gov.za/masakhisizwe beskikbaar.





