Prof. Erwin Schwella van die Hugenote Kollege se skool vir maatskaplike vernuwing. Foto: Rasaad Adams


Die nuutgestigte skool vir maatskaplike vernuwing by die Hugenote Kollege in Wellington het verlede week ’n boek bekendgestel wat hy hoop sal dien as ’n gids vir die land se beleidmakers, aangesien dit die suksesstories van algemene Suid-Afrikaners vier – mense wat hulle daartoe verbind om maatskaplike probleme hok te slaan.

Die boek, getiteld The Caribuntu Social Innovation in South Africa, ondersoek belangrike temas soos maatskaplike ondernemings, bedienings en die rol van geloofsgebaseerde organisasies in die lewering van maatskaplike dienste in Suid-Afrika.

Prof. Erwin Schwella, verbonde aan die Hugenote Kollege se skool vir maatskaplike vernuwing, is een van die skrywers wat ook die boek geredigeer het.

Schwella het meer as 40 jaar se professionele ervaring in onder meer sosiale wetenskappe en geloofstudies.

Hy het tydens die bekendstelling aan Paarl Post gesê die boek gee waardevolle insigte vir praktisyns, beleidmakers en geleerdes, en bied ’n omvattende begrip van die ontwikkelende landskap van maatskaplike vernuwing in Suid-Afrika.

“In Suid-Afrika het ons soveel dinge wat skynbaar verkeerd loop dat ons dikwels op mislukkings fokus, maar daar is ook ’n groot verskeidenheid wonderlike suksesstories.

“Hierdie boek dek twaalf gevallestudies, waarvan een uit die Paarl en ’n verskeidenheid ander uit die Boland. Hierdie suksesstories sê vir ons wat gedoen kan word om die uiterste nood van mense te verlig deur ’n barmhartige benadering,” sê Schwella.

Prof. Erwin Schwella aan die woord tydens die boek

Prof. Erwin Schwella aan die woord tydens die boekbekendstelling verlede week. Foto: Rasaad Adams

Hy voeg ook by dat die ’n boek ’n groot bemagtigingskomponent bevat.

“Ons uitgangspunt is baie duidelik, en dit is dat mense getref word deur goed soos armoede en werkloosheid. Op verskillende manier is hulle dus ook die slagoffers van hierdie probleme.

“Ons dinamika en metodiek is om te sê ‘raak betrokke by die gesamentlike ontwerp van die oplossings tot die probleme’. Daardeur bemagtig ons die mense wat deur die probleem getref word, maar op ’n manier dalk die probleem veroorsaak. Daardie vorm van bemagtiging is wat deur hierdie boek gekommunikeer word.”

Dr. Frederick Marais, dekaan vir die skool vir maatskaplike vernuwing, het een spesifieke gevallestudie wat in die boek omvat word, uitgesonder.

“Ek is self betrokke by Huis Horison, ’n sentrum vir intellektueel gestremdes in Stellenbosch. Ek ken dus die verhaal en dis vir my baie inspirerend.

“Hierdie is ’n organisasie wat hom daartoe verbind het om intellektueel gestremdes se menswaardigheid uit te bou. Om te sien hoe hierdie organisasie getransformeer het vandat hulle hierdie visie aanvaar het, is eintlik ’n fassinerende reis.

“Dit is vir my ’n mooi verhaal wat eintlik op ons almal van toepassing is. Ons wil almal menswaardig hanteer word. As jy vertroue wil bou, hanteer jy elke mens met menswaardigheid.

“Hierdie is regte stories van regte mense in ons land, wat te midde van al ons uitdagings ’n baie groot verskil maak,” sê Marais.

The Caribuntu Social Innovation in South Africa ko

The Caribuntu Social Innovation in South Africa kos R280 by die Christian Literature Fund. Foto: Rasaad Adams

. The Caribuntu Social Innovation in South Africa kos R280 en is beskikbaar by die Christian Literature Fund in Wellington.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article