Rook vanuit Paarlberg in Noorder-Paarl. Foto: Verskaf


Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) het aangemeld dat hy bewus is van “smeulende rook” op Paarlberg in Noorder-Paarl en dat ’n grondspan die situasie monitor.

Die rook is tans te siene in die rigting van die Eureka-wynlandgoed op die Noorder-Agter-Paarl-pad.

Volgens Anesca Roodt, ’n woordvoerder van die KWDM is dié rook ’n “opvlamming” van die brand wat verlede naweek op dieselfde plek op Paarlberg aangemeld is tydens die stormweer wat die vallei ervaar het.

“Die KWDM [se] brandweerdienste is bewus en ons [die KWDM] het huidiglik een grondspan op die toneel,” het Roodt bevestig.

Volgens Roodt hoef inwoners nie bekommerd te wees nie, omdat daar slegs rook trek, met geen vuur wat brand óf versprei nie.

“Dit is nie ’n vuur wat fisies brand nie dit smeul net, daarom is daar rook.”

“Ons [die KWDM se] grondspan is op die toneel, maar dit [die brnad] is onderbeheer,” het Roodt bygevoeg.

Volgens haar was die brand vroeg vanoggend gerapporteer.

Die rook hou tans geen gevaar in vir inwoners nie, en word gemonitor om “voorkomend” op te tree, volgens Roodt.

Eda Barnard, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van openbare veiligheid, het gesê dat die Drakenstein-munisipaliteit ook bewus is van die rook.

“Branddienste-spanne van Drakenstein-munisipaliteit en die KWDM is tans op die toneel, [en] die munisipaliteit se Parke-span sal ook hulp verleen indien nodig,” volgens Barnard.

Daan van Leeuwen-Boomkamp, hoof van die Drakenstein Farm Watch (DFW) het bevestig dat die plaaswag bewus is van die rook, maar nie self op die toneel nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article