Fourie van Wyk, ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Gimnasium Paarl, is ’n toegewyde jong man wat aan die adrenaliengevulde SA afdraand- (downhill) bergfietsrykampioenskap deelneem.

Suid Afrika het ’n groot held in dié sport, naamlik Greg Minnaar, wat as die beste nog en “The Goat” bekendstaan en die jong Fourie aanspoor.

Minnaar het al vier wêreldbekerkampioenskappe en 23 keer ’n wêreldbekertydren gewen.

Fourie het die afgelope naweek aan die derde ronde van die Suid-Afrikaanse nasionale afdraand-bekerreeks deelgeneem.

Die derde ronde van vier in die reeks is op 20 en 21 April by Karkloof, naby Howick in KwaZulu-Natal, beslis.

Fourie het in die junior mansafdeling die goue medalje in ’n uitstekende tyd verower.

Hy het ook tweede in beide die eerste en tweede ronde van die reeks geëindig.

Dié jong man het algeheel die vyfde plek beklee, met slegs vier elite volwasse fietsryers wat beter tye as Fourie aangeteken het.

Die afgelope naweek se prestasie volg op sy ongelooflike vertoning in Maart waar hy die silwermedalje by die Suid-Afrikaanse nasionale afdraand­-kampioenskap in die Paarl gewen het.

Fourie staan nou ’n baie goeie kans om in die SA span ingesluit te word wat in Augustus en September aan die wêreld-afdraand-kampioenskap in Andorra in Europa gaan deelneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article