Perlemoen smokkelaar ry in gebou vas; in kritieke toestand in hospitaal

Die BMW-motorwrak soos dit in muur vasgejaag het. Foto: Gail de Waal Basson/ Paarl Positive/ Facebook


’n 47-jarige man van Hermanus wat na bewering perlemoen onwettig vervoer het, lê in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal nadat hy tydens ’n jaagtog met die Paarl-polisie deur ’n gebou in die dorp geploeg het.

Volgens kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie het die insident in die vroeë oggendure van 30 April plaasgevind, en is die man in hegtenis geneem vir die “besit van perlemoen asook roekelose en nalatige bestuur” deur lede van die Paarl-polisie asook die Winelands District Flying Squad.

Die verdagte het ’n BMW bestuur en probeer om van die polisie te vlug, vermoedelik reeds vanuit Franschhoek, waarna hy toe beheer oor die voertuig in die Paarl verloor het na sy band geebars het, en in ’n besigheidsperseel op die hoek van Hoofstraat en Klein Reservoirstraat in die Paarl vasgejaag.

Die gebou op die hoek van Hoofstraat en Klein Reservoir-straat in die Paarl waarin ’n BMW vasgejaag het toe hy probeer ontsnap het van die Paarl-polisie. Foto: Rasaad Adams

Dít is volgens ’n ooggetuie wat op die toneel was.

Die besigheidsperseel behoort aan ISA Architects, maar word verhuur aan die Mountain River Group wat wynvate en ander wynbehandelingsprodukte verkoop en uitvoer.

Volgens ’n werknemer van dié besigheid waarmee Paarl Post gesels het, met hul besoek na die toneel is daar groot skade aan die kantoor gerig met waardevolle papierwerk wat verlore is.

Die werknemer het verduidelik dat die besigheid die vorige dag belangrike finansiële papierwerk voltooi en verpak het in lêers wat nou onder die bourommel verkrummel is.

Die gebou op die hoek van Hoofstraat en Klein Reservoir-straat in die Paarl waarin ’n BMW vasgejaag het toe hy probeer ontsnap het van die Paarl-polisie. Foto: Rasaad Adams

Dié gebou het vroeër in April ook deurgeloop toe die stormwinde strukturele skade aangerig het weens bome en boomtakke wat omgewaai het.

“Die buitekant van die gebou was nou net skoongemaak na die storm, en toe gebeur dit [die motorongeluk], volgens die werknemer.

Dié historiese gebou dateer uit die 1800’s.

Ongeveer 2 300 perlemoene is in die voertuig gevind in altesaam 22 sakke, het Du Plessis. gesê.

Die BMW-motorwrak nadat dit in die muur vasgejaag het. Foto: Verskaf

Die verdagte is in die hospitaal opgeneem weens beserings wat hy tydens die ongeluk opgedoen het en sal na sy vrylating in die Paarl-landdroshof verskyn.

Die perlemoen is deur die Paarl-polisie op beslag gelê nadat dit uit die motorwrak gehaal was. Foto: South African Police Service/ Facebook

Die waarde van die perlemoen is onbekend, asook die datum van die eerste hofverskyning.

Hierdie is ‘n ontwikkelende storie, lees Donderdag se Paarl Post vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article