’n Onderneming in Oosterlandstraat in die Paarl sit sedert verlede jaar met ’n groot tameletjie. Die onderneming se eienaar beweer die Drakenstein-munisipaliteit se vullisverwyderaars vra omkoopgeld van R20 op ’n keer om sy vullis te verwyder.
Volgens die sake-eienaar het dié probleem reeds in September 2023 die kop uitgesteek toe die munisipaliteit se vullisverwyderaars vir omkoopgeld van R20 gevra het om “ ’n koeldrank te koop”.
Nadat die sake-eienaar die aansoek om omkoopgeld verwerp het, het die vullisverwyderaars summier weggery sonder om die vullisdromme leeg te maak.
Volgens die eienaar herhaal dié situasie hom amper weekliks elke Dinsdag, wat veroorsaak dat die onderneming self sy eie vullis moet verwyder.
“Dit is altyd dieselfde mense [vullisverwyderaars] wat die vullis kom haal.”
Daar is nog ’n sakeperseel in dieselfde straat, wat ook hierdie probleem ervaar, maar dit is onduidelik of dié onderneming ook gevra word vir omkoopgeld en of die onderneming se vullis maar net nie gereeld verwyder word nie.
Volgens die sake-eienaar is dit die bestuurder van die vullisverwyderingsvragmotor asook een ander munisipale werker wat gewoonlik vir omkoopgeld vra en dan met leë hande wegry.
“Daar was een keer dat nog iemand [’n munisipale werker] saamgery het, en wat besig was om die [vullis] dromme te vat om leeg te maak, toe die ander [munisipale] werkers die ou roep en sê dat hy nie die dromme moet leegmaak nie. Hy het toe teruggehardloop na die [klaar bewegende] trok, daarop gespring en hulle het weggery,” vertel die gefrustreerde eienaar.
Die sake-eienaar het bygevoeg dat die munisipale werkers van mening was dat hulle “te veel” vullisdromme het en dat dit “te vol” is.
Die onderneming het hierteen beswaar aangeteken en gesê albei dromme is by die munisipaliteit geregistreer en die dromme is nooit oorvol nie.
Volgens Louis Pienaar, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, is die munisipaliteit nie bewus van dié aantygings nie, maar sal ’n “ondersoek na die beweerde oortredings van stapel stuur”.
Pienaar het ook verduidelik dat ’n inwoner van die Drakenstein-munisipaliteit “oor enige aantal munisipale vullishouers [mag] beskik” solank die vullisdromme by die munisipaliteit geregistreer is met die bewoording “Drakenstein”.
“Geen private vullishouers word egter deur die munisipaliteit gediens nie,” verduidelik Pienaar.
Hy sê ook vullisdromme mag slegs met “sagte vullis” gevul word “totdat die houer vol is en die deksel steeds toegemaak kan word”.
“Indien die deksel nie 100% dig toemaak nie, is die vullishouer gevul met meer as die toegelate 240 liter waarvoor die kliënt betaal, en moet die kliënt skriftelik aansoek doen by die munisipaliteit vir ’n tweede of derde munisipale vullishouer,” sê Pienaar.
- Skakel Thys Serfontein, senior bestuurder van vaste-afval-bestuur, by 021 807 484 of die blitslyn vir bedrog by 0900 555 337 indien enige probleme met vullisverwydering ervaar word. Die blitslyn om bedrog aan te meld kan ook by 0800 555 337 geskakel word.





