Om opnuut klem te lê op die Afrika in Afrikaans, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ’n gratis reggae-konsert op Afrikadag op Saterdag 25 Mei 2024 aan. Die gewilde Wes-Kaapse Conquerors Reggae Band sal gaste by die bistro aan die voet van monument meevoer met hul komvandaan-reggaemusiek, wat ’n positiewe boodskap bevorder.
Reggae is ten nouste gekoppel aan Rastafari, ’n Afrosentriese godsdiens wat in die 1930’s in Jamaika ontwikkel het, met die doel om Pan-Afrikanisme te bevorder. Hoewel die musiek in die Karibiese eilande geskep is, is dit gedryf deur die afstammelinge van slawe wat uit Afrika ontvoer is. Dit het ’n sterk Afrika-invloed en word die afgelope dekades oral in Afrika as genre verder ontwikkel, met onder meer van Hemelbesem se musiek wat as Afrikaanse reggae beskryf word.
Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, wil die monument met hierdie viering mense bewus maak van Afrikaans as ’n Afrikataal, die taal se Afrika-wortels (saam met haar Europese en Oosterse erfenisse), sowel as die diversiteit van die Afrikaanssprekende gemeenskap. “Ons beskou die monument nie net as ’n baken van hoop vir die ontwikkeling van Afrikaans nie, maar vir alle Afrikatale.”
Die konsert vind tussen 13:00 en 14:00 plaas, maar toegang tot die monument is gratis vir die hele dag. Vir die kinders is daar ook speelparke en buitelug-speletjies. Besoekers is welkom om hul eie piekniek- en drinkgoed (geen glas) saam te bring of om piekniekmandjies by Suikerkan te bestel by 082 216 2510 of per e-pos by info@diesuikerkan.co.za.
Die bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop.
. Kontak Stefanie Rasztabiga by 021 872 3441 of 021 863 0543 of per e-pos by kommunikasie@taalmuseum.co.za vir meer inligting. Meer oor die Conquerors Reggae Band op Facebook en Instagram.





