“Vir die afgelope vyf weke is daar net een werkende toilet vir vroue by die Dal Josafat-stadion.”
Só het ’n rugbyliefhebber, wat week ná week plaaslike rugbyspanne langs die sportveld op Dal Josafat gaan ondersteun, haar ontevredenheid uitgespreek rondom badkamergeriewe wat buitewerking is.
“Ek is ’n groot klubrugby-ondersteuner en is elke Saterdag by die sportveld, Dal Josafat-stadion, om my span te ondersteun. Nie eens die weer kan my weghou nie. Verlede jaar het die kaartjiepryse gestyg, maar tog sou jy my en baie ander ondersteuners langs die rugbyveld kry.
“Ek het nie een wedstryd gemis nie, want ek het verstaan dat die lewe duur word. Daar is uitgawes soos water en elektrisiteit wat betaal moet word asook die instandhouding van die sportterrein. Hierdie jaar gaan dit egter my verstand te bowe dat so ’n ‘trotse’ munisipaliteit met ’n goeie rekord nie eens vir hul – of moet ek sê ons – sportveld kan sorg nie.”
Die ondersteuner, wat duidelik gefrustreerd is, vertel daar is ook geen lopende water in die badkamer nie en dat hulle water vanuit ’n plastiekbottel moet gebruik om hande te was.
“Die kleedkamers is net so vieslik en onhigiënies. Spelers moet die kleedkamers en toilette gebruik wat nie kan spoel nie, krane is gebreek met ’n reuk van urine wat rondhang. Hoe kan Drakenstein-munisipaliteit daarop trots wees?
“Onlangs het tien spanne op Dal Josafat gespeel en dié munisipaliteit het verwag dat ’n vol sportterrein slegs een toilet moet gebruik, en dit is nie eers in volle werkende toestand nie. Ons kan dit nie eers ’n toilet noem nie aangesien dit onhigiënies was. Dink hierdie munisipaliteit so min van hul inwoners? Hoekom betaal ons as ondersteuners toegangsfooie as die terrein nie op standaard is nie? Sies vir julle Drakenstein-munisipaliteit.”
Paarl Post het, tesame met Kevin Benjamin (sekretaris), Eugene Andries (voorsitter) en Marolise Timmie (notule-sekretaris) van die Paarl-rugbykodekomitee, vandeesweek besoek gaan aflê aan die sportterrein. Daar is uitgewys dat die badkamer wat vroue tans moet gebruik binne ’n skeepsvraghouer is, waarin net een toilet bruikbaar is.
“Vroue staan in lang toue net om gebruik te maak van dié badkamer. Daar is ’n badkamer, maar dit is tydens die storm in April verwoes en nog niks is tot nou gedoen om die geriewe te herstel nie,” het Benjamin gesê.
Die klagte is aan die Drakenstein-munisipaliteit gestuur, waarop Eda Barnard, die waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, geantwoord het.
Sy het bevestig dat die watertoevoer by die Dal Josafat-stadion ten volle herstel is nadat ’n gebarste pyp, aan die begin van April vanjaar voor die skeepsvraghouers voorgekom het. Dit is kort daarna reggemaak.
“Die munisipaliteit het egter die water by die ablusieblok ontkoppel, aangesien hierdie area in April deur die windstorm beskadig is.
“In die belang van die publiek se veiligheid het ons hierdie area met lint afgesper, en laat ons nie toe dat die publiek dit binnegaan voordat die skade heeltemal deur ons versekeringsmaatskappy herstel is nie. Ons vind egter dat lede van die publiek die lint verwyder.
“Die munisipaliteit het genoeg toilette by die fasiliteite beskikbaar vir dames, maar hulle weier ongelukkig om na hierdie toilette te stap. Verder moedig ons organiseerders aan om voor geleenthede ekstra toilette te huur om groot getalle toeskouers te akkommodeer, aangesien die voorsiening van genoeg toilette hul verantwoordelikheid bly.”





