Ntuthuzelo Mayekiso (29) van Khayelitsha wat in 2018 skuldig bevind is aan die moord op sy 14 maande oue dogter, Lindokuhle Kota, het verlede Donderdag (15 Mei) na bewering ’n bewaarder van die Drakenstein Korrektiewe Dienste buite die Paarl, waar hy sy lewenslange vonnis uitdien, aangerand.
Mayekiso is “met minimale geweld” deur middel van ’n tonfa (knuppel) bedwing toe ander gevangenisdiens-personeel die bewaarder bygestaan het.
Dit is volgens ’n betroubare bron verbonde aan die departement van korrektiewe dienste (DKD).
Volgens dié bron het Mayekiso die bewaarder “gegryp en hom met die vuiste aangerand”.
“Baiekeer het hulle [die gevangenes] persoonlike probleme, dan doen hulle dit [raak gewelddadig teenoor bewaarders of ander gevangenes].”
Volgens ’n interne verslag wat aan lede van die DKD gestuur is, wat Paarl Post onder oë gehad het, het Mayekiso die bewaarder deur ’n “veiligheidshek [in die maksimum-afdeling] gegryp en hom aangerand” waarna die bewaarder die paniekknoppie kon aktiveer en ander amptenare die bewaarder bygestaan het deur vir Mayekiso te bedwing.
Mayekiso is op 15 November 2018 deur die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis vir die moord op sy dogter.
Volgens ’n persverklaring van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) wat op die dag van die vonnisoplegging uitgereik is, het die kind “erge inwendige en uitwendige beserings gehad, wat insluit ’n breinbesering, bloed in haar oë en longe, ’n gekraakte ruggraat en wonde aan verskeie dele van haar liggaam”.
Die kind se ma het haar in die sorg van Mayekiso, wat pas uit die tronk vrygelaat is, geplaas.
“Haar redenasie was vir pa en dogter om tyd saam te spandeer,” volgens die verklaring.
“Dit is die tweede moord wat hy [Mayekiso] in sy kort lewe gepleeg het. Hy het sy eerste moord en verkragting gepleeg op die ouderdom van 14,” lui die persverklaring.
“Daarbenewens het hy skuldigbevindings wat strek van 2007 tot 2015, wat insluit verkragting, moord, diefstal, besit van gesteelde eiendom en beskadiging van eiendom.”
Mayekiso is op 9 Februarie 2017 uit die tronk vrygelaat vir van sy vorige misdade, en drie maande later het hy sy dogter vermoor.
Tydens die hofverrigtinge tot op die dag van sy vonnisoplegging het Mayekiso skuld bly ontken.
Paarl Post het verkeerdelik op 16 Mei in ’n aanlyn artikel berig dat Mayekiso oorlede is, maar dit was nie die geval nie, en is ook ontken deur Candice van Reenen, ’n woordvoerder van die DKD.




