Die afgelope weke in aanloop tot die verkiesing was die munisipaliteit weer eens besig om die vervallende vallei te probeer poets.
Selfs net ’n dag voor die verkiesing was hulle besig om parkies en sypaadjies wat hulle gewoonlik net ignoreer, skoon te maak.
Maar binnekort weer sal die norm voortgaan in die vallei met onaanvaarbare situasies – besoedeling oral in die dorp; haweloses wat die strate oral beset en bemors; so te sê geen wetstoepassing op ons paaie nie en veral taxi-bestuurders wat soos besetenes rondry en alle verkeersreëls oortree; misdaad in die arboretum; die arrogante houding van raadslede wat nie na die behoeftes van inwoners luister nie; die besoedeling van ons riviere, ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts.
Week ná week sien ons dieselfde klagtes uit alle gebiede en van alle gemeenskappe. Maar dit val op dowe ore.
En dan word ons vertel dat Drakenstein die beste munisipaliteit in die land is en hy sê self: “City of Excellence.”
Maar wie ook al hierdie erkennings aan die munisipaliteit gee, het sekerlik nog nooit deur die hart van die vallei gery en werklik gesien watter gemors dit is nie. Jy hoef net in Lady Greystraat op ’n Saterdagoggend te ry of met Fairyland langs om te sien watter verval plaasvind.
Dan ook moet ons ons nie blindstaar teen die titel van “stad” nie – dit is destyds net aangebring om ons munisipale tariewe volgens stad-standaard te verhoog.
Die werklikheid is – Drakenstein verval. Moet ons net stilbly en tevrede wees?
Verdien ons mense dan nie respek en menswaardigheid nie? Of is ons net betalers van belastinggeld vir luukses vir ampsdraers?




