Die voormalige hoofseun van New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl, William Sezoe, het die afgelope week die nasionale verkiesing by die OVK se nasionale uitslagsentrum in Gauteng met ’n valkoog dopgehou. William doen verslag oor sy ervaring daar.
Suid-Afrika het verlede week ’n merkwaardige mylpaal bereik toe die land die eerste keer in sy demokratiese geskiedenis ’n nuwe tydvak betree het. Die African National Congress (ANC), wat sowat drie dekades lank die politieke toneel oorheers het, het uiteindelik sy meerderheidstem in die parlement verloor. Hierdie gebeurtenis dui op ’n diepgaande verandering in die land se politieke landskap en bring nuwe hoop vir die toekoms van Suid-Afrika.
Miljoene Suid-Afrikaners het verlede week hul kruisie by die stembus gaan maak. Ek het verskeie stembusse besoek en gesien hoe mense, beide jonk en oud, in lang rye gestaan het om hul stemme uit te bring. Dit was veral inspirerend om met ’n hele paar jongmense te gesels, veral kiesers wat vir die eerste keer gestem het. Hulle het gesê hulle is optimisties oor die toekoms en hulle gaan stem vir verandering. Die lang rye het duidelik nie hierdie Suid-Afrikaners ontmoedig nie; inteendeel, dit het hulle gemotiveer om vas te hou aan hul reg om te stem en seker te maak dat hulle ’n verskil maak.
Donderdagoggend het ek in Johannesburg aangekom en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se nasionale uitslagsentrum besoek. Die kommissie het reeds die oggend aangekondig dat die laaste kiesers hul kruisies te midde van tegniese uitdagings Donderdagoggend vroeg getrek het, ondanks die stembusse wat die vorige aand gesluit het.
Teen Donderdagmiddag was ’n groot persentasie stemme reeds getel en geoudit, en die resultate het toe reeds gewys dat die ANC onder 50% geval het. Dit was ’n duidelike aanduiding van die verandering wat aan die gebeur is. Dit was ook interessant om te sien hoe die party van die voormalige president Jacob Zuma, die uMkhonto we Sizwe-party (MK), die Economic Freedom Fighters (EFF) ingehaal en as die derde grootste party vervang het. Hierdie nuwe politieke dinamiek maak die pad vorentoe baie interessant, dog onvoorspelbaar.
Die feit dat geen enkele party ’n meerderheidstem behaal het nie, beteken dat Suid-Afrikaanse politieke partye sal nou moet saamwerk om besluite te neem oor die toekoms van die land. Hoewel die ANC steeds die grootste party is, speel dit ’n sentrale rol in die koalisie-onderhandelings. Tans lyk dit asof ’n koalisie tussen die DA en die ANC die mees waarskynlike en positiewe uitkoms is. By die uitslagsentrum het ek met die DA-leier, John Steenhuisen, gepraat, wat benadruk het dat hy enigiets sal doen om te verseker dat die ANC nie met die MK en die EFF saamwerk nie.
“Hierdie is ’n goeie dag vir demokrasie; uiteindelik het ons die ANC se knie gebuig. Die DA sal alles doen om ’n ANC-MK-EFF-koalisie te keer. Ons wil ons liberale beginsels in regering uitoefen,” het hy gesê.
Hy het ook gesê hy is bly dat die ANC onder 50% gedaal het, wat beteken die party sal nooit weer ’n meerderheid kry nie.
Daar het ek ook met die ANC se adjunk-sekretaresse, Nomvula Mokonyane, gepraat, wat gesê het sy is nie hartseer oor die verlies nie, maar verwelkom dit omdat dit ’n simbool is van hoe demokrasie in die land groei en ontwikkel. “Hierdie sentiment weerspieël die volwassenheid van die Suid-Afrikaanse demokrasie, waar die stem van die mense respek verdien en verandering aanvaar word,” het sy aangevoer.
Die “ontwrigter” van hierdie verkiesing – Zuma – het Saterdagaand by die sentrum opgedaag en groot opgewondenheid veroorsaak. Joernaliste het hom omring om hom af te neem en met hom te gesels. Hy het egter beweer die verkiesingskommissie is “omgekoop” en hy aanvaar nie die uitslae nie. Die kommissie het gou daarop gereageer en verseker dat die verkiesing vry en regverdig was.
Die hoop is natuurlik dat Zuma nie weer die oorsaak is van grootskaalse onrus – veral in KwaZulu-Natal – sal wees nie, maar die regering sê hy is reg om dit te verhoed.
President Cyril Ramaphosa het die uitslae Sondagaand aanvaar soos dit is en benadruk die mense het besluit wie hulle moet regeer. Hy het politieke partye aangemoedig om hul verskille opsy te sit en saam te werk vir ’n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners.
“Ons moet nou ons verskille agter ons sit, die middelgrond vind, en saam werk vir al ons mense,” het Ramaphosa gesê.
Die toekoms van Suid-Afrika is nou onseker, maar een ding is duidelik: die ANC het steeds ’n belangrike rol om te speel. Die pad vorentoe sal uitdagings en geleenthede inhou, maar die hoop op ’n nuwe tydvak van verandering en groei bly sterk.
Daar is hoop vir ons toekoms, ongetwyfeld.
– Sezoe doen tans sy Honneurs-kursus in Politieke Kommunikasie aan die Universiteit van Kaapstad.




