Die braaimeester Jan Braai vier ook graag Vadersdag – en altyd met iets oor die kole. Dit is immers waar Jan destyds sy vaardighede om die braaivuur begin leer het – as ’n klein knapie aan sy pa se sy langs die braaivuur.

Hy vertel dat sy pa, Groot Jan, se gunsteling- Jan Braai-resep Klein Jan se Rogan Josh-lamskerriepotjie is.

Dit is ’n uitstekende kerrie met ’n ryk en eksotiese geur.

“Hierdie is ’n heerlike aromatiese pot wat maklik maar indrukwekkend is en sal beslis een van die beste potte wees wat jy al gemaak het.”

En dit is presies wat Klein Jan vir Groot Jan oor die kole op Vadersdag sal maak – bedien met sambals en roosterkoek.

Roosterkoek, sê Jan, vul die rol van Indiese naan-brood en hy smeer dit met knoffelbotter sodra dit van die kole af kom.

Noudat die winter amptelik sy verskyning gemaak het, is dit ook die perfekte gereg om die siel op ’n koue wintersdag te bederf.

Klein Jan se Rogan Josh

Jy benodig:

. 2 eetl. groente-olie

. 1 kg ontbeende lamsvleis (vanaf boud of blad)

. 2 uie (geskil en fyn gekap)

. 2 lourierblare

. 1 kaneelstokkie

. 6 groen kardamompeule

. 6 heel swartpeperkorrels

. 6 heel naeltjies (die spesery, nie knoffel nie)

. 6 knoffelhuisies (gekneus of gekap)

. vars gemmer (gekneus of gekap, gelyk in volume aan die knoffel)

. 1 tl. gemaalde koljander

. 1 tl. gemaalde komyn

. 1 eetl. paprika

. 1 tl. rooipeper (cayenne)

. 1 tl. sout

. 1 koppie gewone jogurt

. ½ koppie water

. vars koljanderblare (vir garnering)

So maak jy:

. Verhit die olie in ’n potjie op die vuur. Voeg die vleisblokkies in sarsies by en braai hulle oor ’n hoë hitte vir ’n paar minute totdat hulle ’n mooi bruin kleur kry. Jy sal waarskynlik twee sarsies nodig hê.

Haal hulle uit die pot en hou op ’n bord weg van honde of hiënas. Ons sal die vleis later terugsit in die pot.

. Voeg in dieselfde pot die uie by en braai vir ongeveer vyf minute totdat hulle begin sag word. Voeg die lourierblare, kaneelstokkie, kardamompeule, peperkorrels en naeltjies by en braai vir ongeveer een minuut. Jy sal nou begin ruik hoe wonderlike dinge in die pot gebeur namate die hitte geure uit die speserye begin vrystel.

. Voeg die knoffel en gemmer by en roerbraai vir nog ’n minuut, voeg dan die koljander, komyn, paprika, rooipeper en sout by. Roer dit goed in.

Die mengsel kan op hierdie punt redelik droog wees, wat beteken dinge kan brand – moet dus nie groot vlamme onder die pot toelaat nie. Dit beteken ook jy moet vinnig na die volgende stap beweeg.

. Sit die lam (en enige sappe wat op die bord versamel het) terug in die potjie – dit behoort die droë bodem te bevogtig. Roer goed deur en maak enige klewerige stukkies los met die lepel. As jy sukkel, kan jy ’n baie klein hoeveelheid water byvoeg om jou te help om alles wat aan die bodem van die pot vassit, los te krap.

. Voeg die jogurt by terwyl jy aanhoudend roer om dit goed in die gereg te meng.

. Kook vir 1-3 minute; voeg dan die water by en roer totdat jy ’n sous so glad soos die Protea-krieketspelers het. Bring tot kookpunt, bedek dan met ’n deksel en laat sagkens oor ’n lae hitte vir ongeveer ’n uur prut totdat die vleis sag is en die sous verminder het om ’n dikker, ryk sous te vorm. Indien nodig voeg paar druppels water by die pot.

. Bedien met basmatirys en ’n paar vars koljanderblare – en, soos genoem, die kersie op die koek, roosterkoek wat met knoffelbotter gesmeer is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article