Foto ter illustrasie

Gallo Images / Getty Images)

Die gehoes en geproes om elke hoek en draai is ’n duidelike aanduiding van die griepseisoen wat hier is.

Baie waarsku teen vanjaar se influensa wat mense vir dae lank platgooi. Daar is ook sprake van ’n toename in die influensa A(H1N1)pdm09-virus, beter bekend as varkgriep.

Paarl Post het met verteenwoordigers van twee plaaslike hospitale, Mediclinic Paarl en Paarl-hospitaal, oor die vermoedelike toename in varkgriepgevalle by hospitale gesels.

Verwarrend

Sandra Maritz, woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand in die Kaapse Wynland-distrik, sê by navraag “varkgriep verwys na influensa wat in varke kan voorkom, dus gebruik ons nie hierdie woord as ons na griep onder mense verwys nie”.

“Dit kan verwarrend wees en paniek veroorsaak,” sê Maritz.

“Hoewel ons nie sulke gevalle op die oomblik het nie, is ons tans in die griepseisoen. Volgens data van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand se klinieke en hospitale in die provinsie is daar tans drie variante wat die ronde doen, naamlik influensa A(H1N1)pdm09, influensa A(H3N2) en influensa B/Victoria.”

Maritz sê influensa A(H1N1)pdm09 is teen 26 Mei vanjaar as die dominante variant geklassifiseer.

Inenting

“Dit sirkuleer al in die land sedert die 2010-griepseisoen. Ons moedig veral mense wat van griep ernstig siek kan word, aan om vir die griepinenting te gaan. Dit sluit in swanger vroue, senior burgers en mense wat ’n kroniese toestand het, of wat ’n toestand het wat hul immuniteit verswak.”

Jacorie Visagie, kliëntediensbestuurder by Mediclinic Paarl, sê “die toename [van griepgevalle] is ’n normale toename vir hierdie tyd van die jaar”.

“En as dit vergelyk word met verlede jaar, sien Nios (die nasionale instituut vir oordraagbare siektes) min of meer dieselfde patroon. Ons sien dus wel gevalle, maar in hierdie stadium wys statistiek oor die algemeen nie enige uitskieters nie.”

Nios het verlede week ’n verslag oor die jongste syfers van die griepseisoen bekendgestel.

“Sedert die begin van die griepseisoen in week 17 (die week wat op 22 April 2024 begin), was daar ’n bestendige toename in die aantal griepgevalle vanaf die longontsteking-waarnemingsposte (gehospitaliseerde gevalle).

“Gebaseer op die sirkulasie van griep in 2016 tot 2019 en 2022 tot 2023, is die 2024-griepseisoenoordrag en impak op ’n matige vlak,” lui Nios se verslag.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article