Kolganse oppad na ’n dam op ’n plaas buite die Paarl. Foto: Jana Scheepers


Kolganse is sinoniem met Suid-Afrika. Die kwaak-geluid wat met sonsopkoms en sonsondergang gepaard gaan –wanneer dié voëlspesie homself gereed maak om te gaan swem of ’n slaapplekkie vir homself uit te soek – is iets waarmee talle Suid-Afrikaners hulle kan vereenselwig.

Hierdie patroon word ook waargeneem in die Paarl waar kolganse volop is – veral in woonbuurte soos Vrykyk, waar die ganse gereeld gewaar word omdat dit aan die Bergrivier grens.

Paarl Post het met Jake Mulvaney, ’n ornitoloog in die Paarl-omgewing asook ’n omgewingskonsultant vir AfriAvian Environmental, wat bewusmaking oor kolganse in veral ’n stedelike konteks soos Vrykyk bevorder, gesels.

Kolganse is een van die volopste watervoëlspesies in Suid-Afrika en byna almal weet van hul bestaan en hul flambojante teenwoordigheid.
Jake Mulvaney

“Kolganse is een van die volopste watervoëlspesies in Suid-Afrika en byna almal weet van hul bestaan en hul flambojante teenwoordigheid,” sê Mulvaney.

“Ten spyte van die feit dat hulle volop voorkom, weet min egter hoekom hulle so naby aan mense woon.”

“Ornitoloë is nie seker hoekom hulle [kolganse] stedelike gebiede verkies nie, maar ’n rede hoekom die kolganse na Vrykyk se bome beweeg, kan dalk wees omdat hulle ’n veilige broei- of slaapplek uitsoek waar roofdiere hulle nie maklik kan teiken nie.”

Habitat

Volgens die boek The Atlas of Southern African Birds kom kolganse in alle waterbronne voor, insluitend riviere, damme, panne, mere, riviermondings, riooldamme asook selfs die see wanneer hulle versteur word.

“Kolganse hou ook daarvan om op oop landerye na wurms te jag,” luidens die boek.

Hoewel kolganse ook in stiller omgewings soos plase voorkom, word hulle ook in omgewings soos Vrykyk gesien omdat dit naby aan die Bergrivier is.

“Hulle [kolganse] is watervoëls en sal oral wees waar daar vars water is; dit maak nie saak hoe besig ’n gebied is nie,” sê Mulvaney.

“Dit is dus nie uniek vir hierdie voëls om in Vrykyk voor te kom nie, en hulle sal ook nie na ander gebiede trek nie, want hulle ken nou al die omgewing.
Jake Mulvaney

“Dit is dus nie uniek vir hierdie voëls om in Vrykyk voor te kom nie, en hulle sal ook nie na ander gebiede trek nie, want hulle ken nou al die omgewing.”

“Nog ’n rede hoekom hulle nie wegtrek nie, is omdat daar nie te veel gevare soos roofdiere is nie.

“Indien hulle bedreig gevoel het, sou hulle al lankal getrek het.”

Broeipatroon

Al ooit gewonder hoekom dié voëls alewig raas?

“Een rede kan wees omdat hulle broei.”

Die meeste voëlspesies roep konstant wanneer hulle broei omdat hulle die nes wil beskerm of die band tussen hulle [die mannetjie en wyfie] wil versterk.
Jake Mulvaney

“Die meeste voëlspesies roep konstant wanneer hulle broei omdat hulle die nes wil beskerm of die band tussen hulle [die mannetjie en wyfie] wil versterk.”

Nog redes sluit in om hul grondgebied te beskerm of om gevare weg te jaag wat hulle bedreig laat voel.

Om só te roep is ook ’n vorm van sosialisering.

“Kolganse roep ook altyd met sonsopkoms en sonsondergang, soos hoenders ook maar doen,” sê Mulvaney.

Maar hoekom raas dié ganse voortdurend? Mulvaney lag en sê dit is ’n vraag waaroor navorsers steeds kopkrap.

Wanneer die kuikens uitgebroei het en sterk genoeg is om die nes te verlaat, soos wat in Vrykyk gebeur, sal hulle uit die nes spring en grond toe vlieg.

Daarna, verduidelik Mulvaney, sal die kuikens se ouers hulle vergesel na die naaste water – in dié geval die Bergrivier – waar hul al skreeuend in ’n ry sal stap.

Dit is tydens hierdie eskapade wanneer motoriste in die Bergrivier-boulevard tot stilstand moet kom en vir die ganse moet wag om die pad veilig oor te steek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article