Moontlike nuwe ontwikkeling op Perdeskoen wek kommer onder inwoners

’n Lugfoto van erf 4722 in Wellington langs Blouvlei-pad. Foto: Wellington Aksie Groep/Stopmisdaad/ Facebook


’n Nuwe ontwikkeling in Wellington se Perdeskoen, wat veral gewild is onder drawwers en fietsryers, is tans tot 12 Julie onderhewig aan ’n openbaredeelname­proses en dit hou gemengde gevoelens vir inwoners van dié Bolandse dorp in.

’n Ontwikkeling wat uit hoofsaaklik dorpshuise sal bestaan, word vir erf 4722, op die hoek van die Blouvlei-pad waar die Perdeskoen begin, beoog.

Dít is volgens Seraj Johaar, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste.

“Openbare deelname het op 17 November 2022 geskied in die vorm van kennisgewings aan omliggende eienaars en ’n advertensie in die Paarl Post, wat ’n 30-dae kommentaar- of beswaar-periode gegun het.”

’n Inligtingsessie is ook gehou met die twee wyke wat geraak word.

Dít het by die NG kerk Wellington-Oos in Wellington plaasgevind,” volgens Johaar.

Om plek te maak vir semigrasie vanuit die noorde en die instroming van huisgesinne na die Wes-Kaap, en veral ook om Drakenstein-inwoners te akkommodeer, word daar gereeld ontwikkelings beplan.

Van dié ontwikkelings wat die laaste paar jaar die lig gesien het, sluit in die Stadsig- en Bainsvallei-kompleks in Berg-en-Dal in Wellington, asook die Wilde Paarde-kompleks op die hoek van die N1 en R301 in die Paarl.

Opgraderingswerk word ook aan die R301 gedoen om die verkeersopeenhopings wat met semigrasie gepaard gaan, te akkommodeer, soos gerapporteer deur die Paarl Post in Mei vanjaar.

Volgens Stephan Landsberg, ’n VF-Plus raadslid in Wellington, is hy “nie gekant” teen hierdie ontwikkeling, of enige ander ontwikkeling nie, maar is hy wel bekommerd oor die “verouderde infrastruktuur”, soos die dorp se waterpype of rioolstelsel, wat addisionele druk sal ervaar wanneer meer huise gebou word as gevolg van semigrasie.

Volgens Landsberg is die totstandkoming van sulke ontwikkelings ook ’n manier vir die munisipaliteit om ekstra inkomste in te win.

’n Verdere bekommernis is ook dat erf 4722 geleë is op ’n vleiland wat van nature reg deur die jaar nat is, en gedurende wintermaande nóg meer water behou.

Dit is volgens Landsberg onduidelik hoe dié aspek bestuur sal word.

Volgens dr. Janine Maske, wat langs die Perdeskoen woon en namens die Blouvlei Action Group met Paarl Post gesels het, is dié aksiegroep bekommerd oor hoe die “aangesig” van die Perdeskoen sal verander.

Landsberg stem met die siening saam en sê dat die “gevoel” van die gebied sal verander.

Volgens Maske is die gebied ook in ’n erfenisbeskerming-oorlegsone, maar is die stedelike sone geskuif sodat erf 4722 nie binne die erfenissone val nie.

Maske het ook bygevoeg dat die aksiegroep ontevrede is met die Drakenstein-munisipaliteit se kommunikasie rakende die ontwikkeling en beantwoord die munisipaliteit nie die groep se navrae en aansoeke nie.

Volgens Maske is dit ook onduidelik waar die ontwikkeling sy water vandaan sal kry, omdat die nabye Spruitrivier nie genoeg water het om die nabye plase én die nuwe ontwikkeling van water te voorsien nie.

Landsberg sê dat die munisipaliteit die ontwikkeling goedgekeur het voordat daar ’n kans was om dit aan die raad voor te lê.

Volgens Johaar sal die ontwikkeling uit “56 konvensionele woonerwe (met ’n gemiddelde grootte van 935 m²), ’n vullisverwyderingserf, twee private oopruimte-erwe en ’n private pad” bestaan.

“Die aansoek is tans in die appèlfase, met geen aanduiding van ’n moontlike begindatum wat aan die Drakenstein-munisipaliteit gekommunikeer is nie.”

“Die eienaar het om die grondgebruiksregte aansoek gedoen, maar mag dit moontlik nie self ontwikkel nie, en geen voornemende ontwikkelaar is aan die munisipaliteit gekommunikeer nie,” het Johaar per e-pos aan die koerant gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article