Foto ter illustrasie. Foto: Argief[


Bendegeweld in Wellington het die afgelope maand erg toegeneem, sê Jarque Jacobs, die voorsitter van Wellington se gemeenskaps­po­lisiërings­forum (GPF) nadat dié punt ook op Maandag (24 Junie) se GPF-vergadering in dié dorp uitgelig is.

Dít volg nadat kinders van skoolgaande ouderdom sowat ’n jaar en ’n half gelede hul eie bendes binne Wellington se sektor 2, bestaande uit gebiede soos Weltevrede, Smartie Town, en Voordorp, begin vorm het.

Volgens ’n Wellington-inwoner, wat in Weltevrede woon en vir haar eie veiligheid nie haar naam wil laat publiseer nie, is kinders so jonk as nege lid van dié bendes, maar het die bendebedrywighede spesifiek toegeneem toe die skole op 14 Junie vir die vakansie gesluit het. Twee mans is daardie selfde week na bewering deur een van dié bendes vermoor.

Volgens kol. Johan Barkhuizen, stasiebevelvoerder van die Wellington-polisie, het die twee moorde albei op 18 Junie plaasgevind waar een man op die sportterrein in Vanwyksvlei met ’n mes gesteek en met klippe gegooi is, terwyl die ander voorval in Blignaut-straat plaasgevind het.

Die twee slagoffers is Ethan Williams (18) en Dudley Briesis (29), volgens Barkhuizen.

“Die motiewe is nog onbekend, maar bendegeweld word nie uitgesluit nie,” het Barkhuizen per e-pos gesê.

Volgens hom het bendegeweld wel die laaste ruk afgeneem – ’n stelling wat deur Jacobs bevestig is, en wat bygevoeg het minder bende-verwante misdaad is die afgelope week en ’n half aangemeld.

Die kinders weet nie eens waaroor hulle baklei nie.
Anoniem

“Die kinders weet nie eens waaroor hulle baklei nie,” het die Wellington-inwoner gesê.

“In hierdie bendegeweld is geen dwelms betrokke nie,” stel Jacobs mense egter gerus.

Die kinders het niks om te doen nie, en nou baklei hulle oor die een kind wat na die ander kind se meisie gekyk het.
Jarque Jacobs

“Die kinders het niks om te doen nie, en nou baklei hulle oor die een kind wat na die ander kind se meisie gekyk het,” het Jacobs verduidelik.

Volgens hom is dit die eerste keer dat die Wellington-GPF bendes van súlke aard teekom.

Volgens die anonieme bron gaan party van die gevegte tussen dié kinder-bendes wel oor grondgebied, wat tot geweld lei wanneer iemand van ’n ander bende ’n sekere grondgebied betree.

Sommige van die bendes, wat tans net in sektor 2 doenig is, sluit in die Wild Cats, Living’s, London’s en Egoli se willie hoories.

“Die gemeenskap moenie bang wees om sake [by die Wellington-polisie] aan te meld nie,” sê Jacobs.

“Hulle [die gemeenskap] moet ook nie die mense [bendelede] se byname gee nie, maar hul regte name en vanne.

“Hulle moet saamstaan,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article