Die Swarts-gesin het al hul besittings in die brand verloor.


Die moordverhoor van die 29-jarige Suzanne Swarts het vandeesweek in die Paarl-streekshof begin.

Dié jong vrou van Groenheuwel in Paarl-Oos is op 24 September 2022 na bewering deur haar kêrel, wat ook die pa van haar kinders is, lewend aan die brand gesteek.

Paarl Post het kort ná die voorval berig die grusame gebeurtenis het by Swarts se ouerhuis in Fosterstraat afgespeel.

’n Betroubare bron met wie Paarl Post destyds gesels het, het vertel dat die paartjie die middag voor die voorval stry gekry het toe die beskuldigde glo aan Swarts gesê het hy gaan haar “uitbrand”.

“Een van die bure het gesê toe Suzanne in die ambulans klim, toe sê sy voor almal ‘nou kan julle sien hy het my toe nou uitgebrand – hy het mos gesê hy gaan my uitbrand’. Dit was haar laaste woorde, toe word sy in die ambulans gelaai.”

Swarts, haar kêrel en hul tweejarige seuntjie was in haar slaapkamer toe die brand in dieselfde vertrek ontstaan het. Sy het meteens met ’n matras in haar hande uit haar kamer gehardloop en om hulp geskree.

“Suzanne het uit haar kamer gehardloop en toe het haar hare al klaar in haar gesig vasgebrand, en sy kom toe nog met die matras aan. Dis toe dat haar broer en haar ma na die matras gegryp en haar klere wou uittrek terwyl hulle haar probeer help het. Maar dit het nie gehelp nie. Hulle het ernstige brandwonde aan hul hande opgedoen.”

Buiten dat Sarah en Quinton Swarts, Suzanne se ma en broer, ernstige wonde opgedoen het, het haar seuntjie ook in die voorval seergekry. Die tweejarige het brandwonde aan sy bene opgedoen.

Die brand het vinnig binne die huis versprei en die gesin het al hul besittings verloor.

Die huis het heeltemal afgebrand.

Die beskuldigde, Jacquin Paulse, is dieselfde dag in hegtenis geneem. Hy is sedertdien in aanhouding.

Jacobus Herbert, Swarts se oudste broer, sê die gesin sal nooit kan verwerk wat met sy suster gebeur het nie. “Dit tref my ma veral baie hard, want Suzanne was haar steunpilaar.”

Op die vraag oor hoe dit met Swarts se kinders gaan, het Herbert gesê “haar een kind woon by my ma en dit is moeilik vir die kind, maar ons weet nie hoe dit met die ander twee kinders gaan nie”.

“Ons het hulle sowat sewe maande gelede nog gesien nadat hul ander ouma [die verdagte se ma] die kinders uit my ma se sorg geneem het. Dit is ook nou ’n saak met die maatskaplike werkers wat nog in die hof moet voorkom.”

Paulse kom vandag (4 Julie) weer voor in die hof.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article