Of jy nou in Piketberg of Pretoria woon, kan jy vir Huisgenoot se nasionale eisteddfod inskryf. En die beste deel? Jy hoef nie eens jou dorp te verlaat nie.
Huisgenoot Eisteddfod is ’n derde keer terug, en vanjaar pronk die kompetisie nie met vier afdelings nie, maar ses.
Ja, Huisgenoot Eisteddfod het twee splinternuwe afdelings waarvoor leerders kan inskryf.
Leerders wat lief is vir dans en skoolkore kan nou ook deelneem. Leerders kan ook, soos vorige jare, in die afdelings vir prosa, poësie, sang en redenaars inskryf.
Hoe werk dit?
Besoek Huisgenoot se spesiale eisteddfod-webblad eisteddfod.huisgenoot.com of huisgenoot.com om vir hierdie aanlyn eisteddfod in te skryf.
Deelnemers kan kies vir watter afdeling hy of sy of hulle wil inskryf – prosa, poësie, sang, redenaars of dans. Skoolkore kan ook inskryf.
Daarna kry hulle toegang tot ’n spesiale, eksklusiewe meesterklas vir daardie afdeling. Elke meesterklas is sowat 45 tot 60 minute lank.
In die meesterklasvideo deel ’n professionele akteur, sanger of aanbieder praktiese raad en wenke om die deelnemers te help om vir hul optrede voor te berei. Leerders kan die video’s oor en oor kyk.
Dan is dit tyd vir aksie. Deel ’n video-opname van jou optrede op die Huisgenoot Eisteddfod-webtuiste. In jou video moet jy in Afrikaans ’n liedjie sing, ’n gedig voordra, ’n stuk prosa dramatiseer of as redenaar jou toespraak hou.
Deelnemers in die dans-afdeling kan ’n dans van hul keuse op ’n liedjie van hul keuse doen.
Kore wat inskryf moet twee liedjies sing. Een van die twee liedjies moet in Afrikaans wees. Een van die twee liedjies moet sonder begeleiding wees en een van die twee liedjies moet ’n formeel gekomponeerde lied wees, byvoorbeeld ’n lied uit ’n gesangeboek. Die bladmusiek moet na eisteddfod@huisgenoot.com gestuur word.
Pryse en toekennings
Deelnemers kwalifiseer vir toekenningsertifikate gegrond op meriete – goud, silwer of brons.
Wenners van die afdelings prosa, poësie, sang, redenaars en dans word bekroon met ’n gesogte rooisertifikaat en kan met ’n geldprys van R1 500 wegstap, geborg deur afrikaans.com. Wenners in die koor-afdelings kry R5 000 per koor, ook geborg deur afrikaans.com.
Ons is op soek na 2024 se Eisteddfod-ster
Net soos die vorige twee jare, word een groot wenner aangewys as die Huisgenoot Eisteddfod-ster van die jaar. Dié toekenning beteken ’n geldprys van R10 000, geborg deur afrikaans.com, en gaan aan die een deelnemer wat die beoordelaars se aandag getrek het, die een wat geskitter het en bo al die ander inskrywings uitgestaan het.
Inskrywings vir die derde Huisgenoot Eisteddfod sluit op 8 Augustus om 17:00.. Stuur e-pos vir meer inligting na eisteddfod@huisgenoot.com of charlea.grey@huisgenoot.com.




