Drukkers, siekte-sertifikate en voorskrifte wat gekonfiskeer is.Foto’s: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens


’n Buitelandse burger wat in Paarl-Oos woon en wat homself as ’n dokter voorgedoen het, is op 12 Julie op aanklagte van bedrog in hegtenis geneem.

John Dapaah (39) het voorskrifte en mediese sertifikate uitgereik en is in ’n gesamentlike operasie tussen die Paarl-Oos-polisie, die Drakenstein-munisipaliteit se brandweer en die departement van binnelandse sake tuis vasgetrek.

Die polisie het ook op verskeie drukkers, rekenaars, siekverlofbriewe, skale en petroleumgas beslag gelê.

“Die geïntegreerde span het op ’n perseel in Siyahlala [Paarl-Oos] toegeslaan nadat hulle inligting ontvang het oor iemand wat homself as ’n dokter voordoen en siekte-sertifikate uitreik, asook petroleumgas by die perseel verkoop,” sê kapt. FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder.

Volgens kapt. Basil Seekoei, woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, het Dapaah glo namens ’n plaaslike hospitaal bedrieglike siekte-sertifikate en voorskrifte uitgereik en gedruk. Die naam van dié hospitaal is nie bekend nie.

Volgens Van Wyk is nog drie buitelandse burgers op dieselfde perseel in hegtenis geneem, naamlik twee vroue van onderskeidelik 32 en 33 en ’n man van 35 op aanklagte van bedrog en verkoop van petroleumgas.

Die vier verdagtes, onder wie Dapaah, het Maandag (15 Julie) in die Paarlse landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article