Die burgerregteorganisasie Solidariteit het sy skok uitgespreek oor twee polisiebeamptes van die Paarl wat binne een maand betrek is by bewerings van seksuele mishandeling, en eis nou antwoorde oor hoekom ’n beampte wat verlede maand glo ’n student in die selle mishandel het, steeds nie geskors is nie.
Paarl Post het verlede maand berig dat ’n konstabel verbonde aan die Paarl-polisiekantoor Maandag 10 Junie op R1 000 borgtog vrygelaat is nadat hy die vorige week in hegtenis geneem is oor bewerings van seksuele aanranding van ’n 23-jarige student van Klapmuts. Sy is glo weens diefstal in dié polisiekantoor se selle aangehou.
Die student, wie se identiteit aan Paarl Post bekend is, is op Woensdag 4 Junie in hegtenis geneem nadat sy op heter daad betrap is terwyl sy glo ’n vibrator by ’n apteek in die Paarl wou steel.
Sy is toe in die Paarl-polisiekantoor se selle aangehou voor haar hofverskyning die volgende dag.
Dit is glo hier (in die selle) waar die konstabel haar seksueel mishandel het.
In ’n ander voorval minder as ’n maand later is ’n 31-jarige beampte verbonde aan die misdaadintelligensie-eenheid in die Paarl in hegtenis geneem oor bewerings dat hy glo ’n 35-jarige vrou op 28 Junie verkrag het terwyl sy glo onder die invloed van alkohol was.
Die beampte in die jongste voorval het verlede week vir sy borgtogaansoek in die Paarl-landdroshof verskyn, en is gister borgtog geweier. Hy bly in aanhouding.
“Dit is skokkend om van hierdie twee voorvalle te verneem. Lede van die gemeenskap kom na die polisie toe vir hulp en bystand.
“Hulle is veronderstel om vertroue in die polisie te hê. Beamptes soos hierdie hoort nie in die polisiediens nie,” het Solidariteit se Ronel Stander vandeesweek aan Paarl Post gesê.
Sy het bygevoeg dat Solidariteit antwoorde gaan eis van die polisie in die provinsie aangesien dissiplinêre prosesse vir bewerings van dié aard bestaan.
“Hierdie soort misdade is baie ernstig van aard en die polisie se dissiplinêre regulasies maak voorsiening daarvoor dat beamptes in die geval van sulke ernstige beweerde wangedrag in ’n [vinnige en doeltreffende proses] ondersoek kan word.”
Phaladi Shuping, ’n woordvoerder vir die Onafhanklik Polisie- ondersoekdirektoraat (Opod), het in ’n vorige verklaring gesê in die jongste voorval word beweer die 35-jarige klaagster en haar manlike vriend was op soek na ’n plek wat alkohol verkoop toe hulle die polisieman omstreeks 01:00 ontmoet en hom gevra het vir ’n plek wat bier verkoop.
“Hulle is almal na ’n sekere huis, waar die polisieman glo twee biere gekoop en die klaagster en haar vriend gevra het om na sy huis te kom,” het Shuping verduidelik.
By hul aankoms het hulle die bier gedrink en die vriend het later op die bank aan die slaap geraak.
“Die polisieman het glo die klaagster aangerand, ’n mes teen haar nek gedruk en haar verkrag. Sy het haar vriend wakker gemaak toe die polisieman se badkamer toe is en hulle het gevlug.”
Kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder in die provinsie, kon nie by navraag bevestig of beide beamptes geskors is nie.
“Voorvalle van hierdie aard word deur polisie-bestuur veroordeel en oortreders kan verwag om die gevolge van hul dade te dra – strafregtelik sowel as en departementeel,” sê van Wyk.





