Vir die duur van die Interskole is word ’n toename in verkeer in die omgewing van die Hoër Meisieskool Paarl altyd ervaar en almal se geduld word getoets.
Die volgende maatreëls geld van Maandag 29 Julie tot Vrydag 2 Augustus:
Die skool vra alle bure, toeskouers en ouers om by die volgende gereguleerde verkeersreëlings te hou.
Om ’n moontlike opeenhoping van verkeer te voorkom, is met die verkeersafdeling ooreengekom dat gereguleerde eenrigtingverkeer in Hoogstraat en Zeederbergstraat toegelaat sal word. Die Drakensteinse verkeersafdeling en die Southern Cross-sekuriteitsmaatskappy sal die skool hiermee behulpsaam wees en sal deur die week ’n beleid van “geen genade” volg.
Tydens spitsverkeer word ’n eenrigtingverkeerstelsel in Hoogstraat gehandhaaf. Beamptes sal aan die onderkant van Zeederberg-, Theron- en albei kante van Hoogstraat aan diens wees om die verkeersvloei te beheer.
Hoogstraat sal dan slegs van Klein-Bos-en-dal-straat toeganklik wees.
Slegs inwoners van L’Ideal, onderwysers, beamptes, skeidsregters en eregaste kan in Zeederbergstraat regs draai.
Geen parkering is op die HMS-parkeerterrein beskikbaar nie.
Gebruik gerus die volgende parkeerplekke: Bosa Nova (stapafstand), Strooidakkerk (stapafstand), Zeederberg-plein (stapafstand), Bean in Love (gratis pendeldiens) en Vida e Caffe (gratis pendeldiens).



