Illustrasie foto. Foto: Argief


Dit is sowat twee maande ná die rassevoorvalle tussen die Hoër Seunskool Rondebosch en die Hoër Jongenskool Paarl tydens ’n sportbyeenkoms in die Paarl, waar Rondebosch beweer het dat Boishaai rassisties teenoor twee van sy leerders opgetree het.

Ná die beweringe het die Hoër Jongenskool Paarl ’n interne ondersoek gedoen, met ’n bevinding wat die Paarlse skool van enige wangedrag vryspreek.

Volgens ’n brief wat aan Boishaai-ouers gestuur is, betwis die skoolhoof, Derek Swart, die twee beweringe wat deur die Hoër Seunskool Rondebosch se skoolhoof, Shaun Simpson, gemaak is.

Nadat alle inligting, insluitende videomateriaal, wat aan ons [Boishaai] beskikbaar is, ondersoek is, is geen afdoende bewyse gevind vir die bewering dat enigiemand in die HJS [Hoër Jongenskool Paarl] se eerste hokkiespan enigiemand in die Rondebosch Seunskool se eerste hokkiespan ’n monkey genoem het nie.

Boishaai voer in die brief aan dat geen Boishaai-leerder ’n Rondebosch-leerder ’n “aap” genoem het tydens die eerstespan-hokkiewedstryd nie, en ook dat geen leerder “aapgeluide” tydens die eerstespan-rugbywedstryd gemaak het toe ’n Rondebosch-leerder van die veld af gestuur is nadat hy ’n geelkaart ontvang het nie.

“Nadat alle inligting, insluitende videomateriaal, wat aan ons [Boishaai] beskikbaar is, ondersoek is, is geen afdoende bewyse gevind vir die bewering dat enigiemand in die HJS [Hoër Jongenskool Paarl] se eerste hokkiespan enigiemand in die Rondebosch Seunskool se eerste hokkiespan ’n monkey genoem het nie,” lui die brief.

“Met betrekking tot die bewering van monkey sounds tydens die rugbywedstryde op 25 Mei op die pawiljoen […] is geen afdoende bewyse gevind van hierdie gedrag nie, behalwe dié van enige ander uitdrukking deur toeskouers, hetsy van opgewondenheid, teleurstelling of aanmoediging vir hul span (uitdrukkings wat normaalweg en redelikerwys van toeskouers by sportaktiwiteite verwag kan word) nie.”

In ’n interne verklaring wat ná die sportbyeenkoms aan die ouers van die Hoër Seunskool Rondebosch gestuur is, beweer Simpson dat leerders van Boishaai in twee afsonderlike wedstryde rassisties teenoor twee swart leerders van Rondebosch opgetree het.

Volgens Simpson se verklaring het die eerste voorval gedurende Vrydagaand 24 Mei se eerstespan-hokkiewedstryd plaasgevind, waar ’n Boishaai-leerder ’n swart Rondebosch-leerder glo ’n “aap” genoem het toe dié Kaapse leerder ’n geelkaart ontvang het.

Volgens hom het die beweerde rassistiese gedrag hom egter gedurende Saterdag se rugbywedstryde herhaal toe “aapgeluide” tydens die tweederugbyspan se wedstryd weer deur Boishaai-ondersteuners gemaak is.

Tydens dié wedstryd, wat op SuperSport uitgesaai is, kan gesien word hoe ’n onderonsie tussen die twee spanne ontstaan het. Ná die onderonsie is twee spelers van elke skoolspan afgestuur, wat ’n swart speler van Rondebosch ingesluit het.

Terwyl die Rondebosch-speler toe van die veld af gestap het, is “aapgeluide” na bewering deur Boishaai-ondersteuners gemaak.

Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), is die departement bewus van die bewerings, maar ondersoek die voorval nie self nie.

Sy het verduidelik dat die Wes-Kaapse hokkie- en rugby-unie die voorval ondersoek, maar dat ’n uitspraak nog nie gelewer is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article