Die Paarl-polisie en die bestuur by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het ’n beroep op enigiemand met inligting gedoen om na vore te kom nadat daar vier keer tussen 19 Junie en 9 Julie by die monument se amfiteater ingebreek is, wat tot ’n verlies van bykans R100 000 gelei het.
Al vier voorvalle het na-ure plaasgevind toe inbrekers toegang tot die amfiteater verkry het deur slotte af te breek en hekke oop te dwing, het Michael Jonas, die ATM se direkteur, vandeesweek by navraag aan Paarl Post gesê.
“Waterkrane, spieëls, elektriese kabels en ander toebehore is verwyder en/of gevandaliseer, met die skade wat tussen R80 000 en R100 000 beloop,” het hy gesê.
Volgens Jonas word toekomstige geleenthede wat by die amfiteater beplan word, nie deur die reeks inbrake geraak nie.
Geen skade is ook aan die Taalmonument self aangerig nie.
“Ons het die herstelwerk binne ons finansiële beperkings gedoen en veiligheidsmaatreëls by die Taalmonument (asook die Taalmuseum, Historium Trust en Amfiteater) oor die jare verskerp deur onder meer die oprigting van heinings, aanbring van sterker slotte, diefwering en hekke asook die installering van kringtelevisiestelsels.
“Alle werknemers en besoekers is veilig, want die diefstal en vandalisme gebeur altyd na-ure.
“Tydens openbare geleenthede het ons boonop ’n veiligheid-en-sekerheidsplan in aksie en bykomende veiligheidspersoneel is telkens aan diens.
“Ons het geen gewelddadige misdaad by die instelling ondervind nie en werk hard om dit so te hou,” het hy verduidelik.
Jonas het verder gesê “misdaad is ongelukkig oral ’n gegewe, maar ons tree die afgelope jare pro-aktief op deur onder meer ’n heining om die monument, tuine en amfiteater op te rig”.
“Ander maatreëls sluit ook in die installering van meer kringtelevisiestelsels en die aanstel van bykomende veiligheidspersoneel – veral na-ure.
“Ons het ook samewerking met omliggende bure en gereelde patrollies word deur die polisie en veiligheidsmaatskappye gedoen.
“Uiteindelik kan ons net soveel doen, gegewe die beperkte finansiële hulpbronne, die groot begroeide terrein asook die openbare toegang tot Paarlberg en algemene afgesonderdheid.”
Hy het beklemtoon dat die ATM ’n baken is wat eie is aan die Paarl, en dat inwoners dit as sodanig moet beskerm en koester.
“Soos alle bedrywe en toeriste-aantrekkings in die omgewing, is die ATM ’n werkgewer waarop verskeie gesinne en selfs families staatmaak.
“Boonop bedien ons die gemeenskap via skoolbesoeke, werksessies, borgskappe en die viering van nasionale dae.
“Misdaad (vandalisme ingesluit) het dus ’n negatiewe uitwerking op almal omdat meer geld nou geoormerk moet word vir beveiliging, versekering en herstelwerk asook bykomende werksure om die herstelwerk te verrig en sake aan te meld. Hierdie baken is in almal se belang vir ekologiese, kulturele, ontspannings- en finansiële redes.
“Ons versoek dus enigiemand wat inligting oor die misdade het, om asseblief die polisie anoniem by 021 807 4000 te kontak.”
Jonas het benadruk alle voorvalle van misdaad, en die kostes daaraan verbonde, word in hul openbare jaarverslae gepubliseer, wat aanlyn by taalmuseum.co.za beskikbaar is.
Die Paarl-polisie het intussen bevestig dat ’n klagte van ’n inbraak by ’n sakeperseel ondersoek word.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Paarl Post het onlangs berig dat die Drakenstein-munisipaliteit voetpatrollies as deel van sy Green Rangers-program na onder meer die Paarlberg en Paarl-arboretum ontplooi het.
Eda Barnard, Drakenstein se uitvoerende direkteur van openbare veiligheid, het vantevore gesê dié patrolleerders is opgelei in vredesbewaring, hantering van strikke en verskeie biodiversiteit-verwante vaardighede.
“Hierdie bewaarders is toegerus om verskeie situasies te hanteer.
“Hul rol gaan nie net oor die afdwing van die reëls nie, maar ook oor die bevordering van ’n kultuur van bewaring en verantwoordelike benutting van reservate.”
Die bewaarders is ook belas met die verwydering van potensiële misdadigers en onwettige besetters, het Barnard gesê.





