Ná die tragies botsing waarin Ethan Bakkes en sy ma, Jackie, dood is, is sy pa, Ewald, wat die motor bestuur het, Dinsdagoggend ook dood.
Dis in hierdie stadium onseker waarheen die Bakkes-gesin onderweg was ten tyde van die botsing. Die voertuig waarin hulle gereis het, ’n wit Hyundai Elantra, het reg van voor teen ’n aankomende dubbelkajuit- Toyota Hilux-bakkie gebots.
Ethan en sy ma is op die toneel dood, terwyl sy pa en sy vriendin beide in die hospitaal opgeneem is. Volgens inligting was Ewald in ’n medies geïnduseerde koma. Ethan se vriendin, wat saam in die motor was, sterk glo goed aan in die hospitaal.
Volgens die bestuurder van die bakkie het die Hyundai so vinnig op sy voertuig afgepeil dat daar nie tyd was om uit te swaai nie.
“Ek en my familie was op pad terug Worcester toe nadat ons ’n kerkfunksie in Wellington bygewoon het. Toe ons uit die tonnel kom, het ek nog vir my vrou gesê hoekom ry die mense so vinnig, die pad is nat. Nie lank daarna het ek nog gesê dit sal darem nie lekker wees om in hierdie nat weer in ’n ongeluk te wees nie,” verduidelik Jerome Scholtz.
Nie lank nadat hy hierdie woorde geuiter het nie, was hulle in die botsing.
“Ek het my spoed so by tussen 90 en 100 km per uur gehou, juis omdat jou motor se wiele oor die verskeie plasse water op die pad gly. Ons was net voor die weegbrug, waar die baan saamsmelt om een baan te maak, toe ek sien hierdie wit motor kom skuins op ons afgepeil. Ek vermoed hy moes as gevolg van die weer en nat pad beheer oor die voertuig verloor het. Die afstand tussen daai motor en ons was te klein vir my om uit te swaai om die botsing te vermy. Die volgende het ek net ’n harde geluid gehoor.”
Scholtz se vrou en drie kinders was saam met hom in die bakkie.
“Die lugsakke het ontplooi. Ek het toe rondgekyk of my gesin oukei is, en toe ek sien almal se koppe hang net, het ek geskree ‘nee Here’ en my deur oopgetrap. Ek het aan hulle almal geskud en hulle het almal wakker geword.”
Sy vrou het ’n besering as gevolg van die veiligheidsgordel opgedoen; sy een dogter het twee diep snye aan haar voorkop; sy negejarige dogter het van die agtersitplek af tot voor teen die voorpaneel gevlieg; en Scholtz se oudste kind het wonderbaarlike geen beserings nie.
“Ons almal is oukei. My laerug is beseer en my mond en neus is gekneus toe die lugsak ontplooi het. Ons is almal styf en seer, maar ons vat dit rustig. Ons probeer met mekaar praat oor wat gebeur het. Ons sal ook binnekort berading ontvang.”
Verder verduidelik Scholtz nadat hy seker gemaak het sy gesin is ongedeerd, het hy na die ander motor gekyk en gesien dit lyk nie goed nie.
“Ek het gesien iemand hang by die venster uit. As ’n polisieman was hierdie nie iets lekker om te aanskou nie. En die ander bestuurders is so ongevoelig, hulle het dwarsdeur die toneel gejaag. Toe ek sien die voertuie stop nie, het ek hulle maar self voorgekeer en my swaer, wat ’n brandweerman is, gebel. Hy het toe seker gemaak alle nodige dienste is van die botsing in kennis gestel.”
Skokgolwe het deur die gemeenskap gegaan nadat die nuus van die Worcester Gimnasium-leerder se dood bekend geraak het. Die skool het hul medelye in ’n Facebook-inskrywing gedeel.
“Dit is met groot hartseer dat die Bosvark-gesin verneem het van die skielike heengaan van Ethan Bakkes (graad 10) en sy ma in ’n motorongeluk vanmiddag. Ethan sal met liefde onthou word vir sy groot glimlag, sy goeie sin vir humor en sy bereidwilligheid om te help. Ons innige meegevoel met sy pa, Ewald, en Cameron van Rooy (graad 9), wat in die hospitaal aansterk. Ons bid dat die genade van God die naasbestaandes sal versterk in hierdie moeilike tye,” lui die boodskap.
Bakkes se suster, Bianca Swart, wat in Australië woon, het aan Netwerk24 gesê haar broer het ’n groot hart gehad. Jackie het Swart op 18 gehad en haar alleen grootgemaak voordat sy met Bakkes getroud was.
“Ek sal hulle nooit vergeet nie. Ek hoop hulle kyk nou mooi na mekaar daar waar hulle is,” het Swart aan Netwerk24 gesê.
Intussen het die Rawsonville-polisie bevestig hulle ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
“Ons kan egter nog nie in hierdie stadium sê presies hoe die botsing gebeur het nie,” het ’n woordvoerder gesê.





