Ná drie en ’n half jaar se druk en verwydering van die vorige burgemeester, Conrad Poole, het opposisiepartye daarin geslaag om weer alle portefeuljekomiteeverga­derings by te woon.

Vier uiters belangrike standpunte en aanbevelings is het hierdie afgelope week by herhaling beredeneer.

Ons wag nou sedert Oktober 2023 se veiligheidswerksessie, gelei deur genl. Roland de Vries, oud-weermaglid, met alle moontlike rolspelers vir die finale aksieplan om die Drakenstein-munisipaliteit se veiligheidsituasie te versterk en te verbeter.

Dan is dit die kwessie van verstedeliking wat ons as ’n gegewe moet aanvaar.

Ons moet proaktief wees en grond beskikbaar stel.

Skep ’n behoorlik beplande ontwikkeling met erf- en diensfasiliteite soos water, straatligte en riool waar erwe oorgeplaas sal word en elke eienaar ’n blyplek kan bou wat hy kan bekostig.

Geen owerheid kan vir almal huise bou nie; dit gee toegang vir munisipale dienste soos vullisverwydering, polisie, brandweer, en so kan ons die uiters walglike onordelike informele vestiging opruim en ook straatslapers in die gebied huisves.

Toerisme is sekerlik die mees verwaarloosde komponent in Drakenstein se mondering met sy buitengewone moontlikhede.

Een voorstel is om ’n toerismeraad verteenwoordigend van Drakenstein daar te stel om hierdie saak te bevorder.

Die afgelope koue winter plaas ook weer klem op ons verouderde swak infrastruktuur.

Kundiges moet aangestel word om ons infrastruktuur te evalueer en ’n aksieplan daar te stel wat ons vir toekomstige rampe voorberei.

Inwoners moet steeds aandring op ’n kleiner burgemeesterskomitee wat al hierdie kwessies meer doeltreffend sal kan bestuur.


André Fourie,

PAARL

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article