“Dankie my seun, mammie sien jou later.” Dít was Myrtle Johnson (65) se laaste woorde aan haar seun voordat sy Maandagoggend vir ’n ondersoek op pad hospitaal toe in Lady Greystraat in die Paarl deur ’n Ford Ranger-bakkie gestamp en op die toneel dood is.
Die voorval het omstreeks 07:30 by die kruising van Lady Greystraat en die Bergrivier Boulevard plaasgevind.
Die Paarl-nooddienste is na die toneel ontbied en moes die bakkie se agterkant oplig omdat sy onder die voertuig vasgekeer was.
Sy is egter deur Paarl-paramedici op die toneel dood verklaar.
’n Saak van strafbare manslag word deur die Paarl-polisie ondersoek.
Johnson, ’n inwoner van Wellington, was op pad Paarl-hospitaal toe waar X-strale van haar geneem sou word, het haar dogter Jacqeline Gordon ná die voorval aan Paarl Post vertel.
Volgens Gordon het haar broer haar ma die middag as vermis aangemeld toe sy nie van die hospitaal af teruggekeer het nie.
“Gewoonlik is my ma al teen 12:00 of 13:00 terug as sy hospitaalafsprake het.
“Toe ek die middag net ná vier van die werk af kom, het ek by my broer gehoor dat sy nog nie by die huis opgedaag het nie.
“Hy is toe hospitaal toe en daar het ons gehoor dat sy nooit vir haar afspraak opgedaag het nie.”
Sy sê twee van haar broers het hul ma toe as vermis by die Paarl-polisiekantoor aangemeld en dis daar waar hulle ingelig is van ’n vrou wat die oggend in die dorp deur ’n voertuig doodgery is.
Die familie het toe met skok verneem dat dit hul ma was.
“Ons sukkel nog maar om die gebeure te verwerk.
“Dit was ’n baie tragiese manier om ’n geliefde te verloor.
“Sy het die huis die oggend verlaat as haar doodgewone self – heel vrolik.
“My broer vertel hoe sy nog by die hekkie gevra het vir haar bril.
“Sy het nêrens gegaan sonder haar leesbril nie.
“ ‘Dankie my seun, mammie sien jou later,’ was haar laaste woorde aan my broer,” het Gordon vertel.
“My ma se teenwoordigheid word alreeds gemis. Selfs die vullisverwyderaars kon nie glo sy is weg nie.
“Sy het vir hulle gereeld ietsie gegee om te eet en te drink. Sy was ’n liefdevolle mens en het altyd koortjies gesing as sy haar wasgoed opgehang het.
“Ek dink die belangrikste van alles is dat sy die Here geken het. Sy was baie lief vir haar God.”
Reëlings vir Johnson se roudiens en begrafnis sal eers getref word sodra die familie haar doodsertifikaat ontvang.
Intussen het die Drakenstein-munisipaliteit gesê tot op hede is Lady Greystraat nooit geïdentifiseer as ’n brandpunt ten opsigte van voetganger- en padveiligheid nie.
“Dit is omdat daar genoeg voetoorgange is om die pad veilig oor te steek.
“Die munisipaliteit beskou die onlangse voetgangersterfte in Lady Greystraat in ’n ernstige lig en sal verdere voetgangerveiligheidsintervensies in hierdie gebied oorweeg,” het Eda Barnard, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van openbare veiligheid, by navraag gesê.





