Elke dag word die lewe van ’n ernstige siek mens deur orgaanskenking verander en letterlik verleng.
Die organisasie Transplant Education for Living Legacies (Tell) maak dit in Augustus sy missie om meer bewustheid te skep oor die belangrikheid van orgaanskenking.
Volgens dié organisasie bestaan twee soorte skenkers – ’n lewende skenker en ’n oorlede skenker.
“ ’n Lewende skenker kan slegs ’n nier of ’n deel van ’n lewer skenk en moet uitstekende gesondheid geniet, terwyl die oorlede skenker se geskiktheid ten tyde van dood beoordeel sal word om te bepaal watter organe en weefsel geskenk kan word,” sê Stella de Kock, besturende direkteur by Tell.
“Om gelys te word vir ’n oorplanting, gaan die ontvanger deur ’n verskeidenheid toetse en word op ’n deurlopende basis deur hul spesialis geëvalueer. Eers sodra die ontvanger goedgekeur is om vir ’n oorplanting gelys te word, sal die assessering van die lewende skenker begin.
“Die opwerkingsproses vir die skenker word in fases gedoen en kan enige tyd gestaak word indien die skenker van plan verander of as dit aan die lig kom dat die skenker ’n mediese toestand het wat ’n oorplanting sal verhoed.”
Die Tell-organisasie meen daar is baie voordele vir beide die ontvanger van ’n orgaan en ’n lewende orgaanskenker. Dit sluit onder meer in dat die lewensgehalte van die ontvanger verbeter en dat hy of sy ’n gehalte lewe kan lei, en vir die skenker die geleentheid om ’n lewe te red sonder om sy eie gesondheid in gevaar te stel.
Dikwels word na vroue verwys dat hulle van staal gemaak is. Dit is sonder twyfel ’n feit as ’n mens kyk na die lewensverhaal van Chinille Willemse (25) oor hoe haar ma, Madeleine Louw, haar lewe deur orgaanskenking gered het. Willemse vertel sy het in 2019 uitgevind sy het ’n niersiekte.
“Ek het opgelet dat my gesig en bene begin swel. Dit was elke dag meer geswel, maar ek was onder die indruk dat ek gewig optel omdat ek baie lief was vir eet. Een oggend het ek opgestaan en my oë was amper toegeswel. Ek het geweet iets groots was fout. My voete kon nie in my skoene pas nie en ek kon ook nie urine afskei nie.
“Daardie aand is ek na die Paarl-hospitaal waar hulle my opgeneem het. Ek het sowat ’n week daar gelê. Daar was bloed en proteïen in my urine. Die Paarl-hospitaal het toe dadelik kontak gemaak met die Tygerberg-hospitaal. Daar is ek vir ’n nierbiopsie opgeneem, waarvan die uitslae gewys het dat al twee my niere besig was om hul werking te verloor.”
Willemse sê dit was glad nie ’n goeie tyd in haar lewe nie, veral omdat sy toe maar net 20 jaar oud was en ’n klein dogtertjie het.
“Elke dag was dit vir my ’n uitdaging om ’n ma te wees, en ek kon haar nie altyd optel nie. Daar was tye dat sy wou speel, maar ek het nie die energie gehad nie. Ek moes my glimlag op my gesig hou ten spyte van hoe ek voel en wat ek moes deurmaak. Ek moes alles binne my dra en het dit net in my kamer uitgehuil.”
Baie gedagtes het deur Willemse se kop gedwaal toe die dokters haar meedeel dat sy ’n nieroorplanting moet ondergaan.
“Ek was bang omdat ek nie geweet het wat om te verwag nie, maar ek het ook uitgesien om weer normaal te voel. Ek was meer bekommerd oor die feit dat my ma my skenker sou wees indien sy iets sou oorkom. Ek het vir haar gesê sy moet lewe om na my dogter om te sien as ek dit nie maak nie.
“Ek was al so gewoond om siek te wees en het dit as die norm aanvaar. Ek het ook begin ervaar dat ek vir die res van my lewe siek sal wees. Ek was bereid om te wag vir ’n nier en nie my ma se nier te neem nie, hoewel sy ’n match was. Haar woorde aan my was: “My kind, ek het klaar gelewe; dis jou kans om te lewe”. As ek ’n hart nodig het, sou sy selfs dit vir my gegee het. Op grond van daardie woorde het dit my diep getref en ek het begin uitsien na ’n nuwe lewe en ’n tweede kans.”
Die oorplanting is op 16 Augustus 2022 in die Tygerberg-hospitaal gedoen en môre (Vrydag) is dit presies twee jaar sedert die groot operasie.
“My lewe het baie verander; fisiek en emosioneel. Toe ek op dialise was, moes ek aanvaar my liggaam het verander. Erge gewigsverlies – so erg dat ek ’n 13- tot 14-jaar-grootte jeans moes dra. Ek kon op een tydstip nie meer loop nie en my ma moes my badkamer toe dra. Sy moes my selfs help was wanneer my energie te min was.
“Ek moes sekere kos uitskakel. Ek was altyd baie lief vir eet, maar moes eet wat voorgeskryf is. Ek kon ook nie meer water drink soos ek wou nie. Somtyds het ek gevoel ek kon my hele lewe net om slaap. As ek baie siek was, het ek gevoel soos ’n las. Ek het my lewe bevraagteken, maar ek moes vrede maak en aanvaar dat God ’n doel met alles het. Ná die oorplanting het ek die beste gevoel gehad wat ek tot vandag toe nie kan beskryf nie.
“Ek is oneindig dankbaar.”
As deel van haar genesingsproses het Willemse besluit om die nier wat haar ma aan haar geskenk het, ’n naam te gee en sy meen hulle twee kom baie goed oor die weg.
“Haar naam is Jalia-Victory en sy vaar baie goed. My ma vaar ook goed.”. Vir meer inligting oor die Tell-organisasie besoek https://tell.org.za/.





