Die man in die middel van die Leibbrandt-debakel is baie bekend aan my, aangesien ons in die middel van die jare tagtig saam gewerk het. Hy was my departementshoof en was ’n baie gedissiplineerde mens wat respek verdien het vir sy professionalisme.

Onder Johan Leibbrandt se bestuur het ’n verskeidenheid aktiwiteite, programme, munisipale ordonnansies en prosedures tot stand gekom. ’n Rolmodel van dienslewering is deur die departement geskep – tot elke inwoner se voordeel. Hy was streng en almal het geweet dat jy elke dag netjies, professioneel en hardwerkend moet wees. Nou my kommentaar op die debakel:

Ek glo nie vir een oomblik dat hy hierdie vrou seksueel geteister, geviktimiseer of geboelie het nie. Sien, dit is nie in hierdie man se aard nie. As jy nie aan sy hoë standaard voldoen nie, sal hy jou aanspreek – man of vrou. Hy maak ook geen onderskeiding tussen geslag, ras of geloof nie en behandel almal dieselfde as kollegas.

In vandag se tyd is dit baie maklik vir ’n vrou om sulke bewerings te maak, veral as hulle nie voldoen aan werksvereistes of etiek nie. Hoe verdedig ’n man homself vandag as ’n vrou jou van so iets beskuldig? Sosiale media kan baie maklik gemanipuleer word om iemand se saak te pas.

Dr. Leibbrandt het ’n pragtige vrou en ek weet dat hy nooit by ander vroue betrokke sal wees nie. Die agbare raadslid, ek sal graag wil sien hoe lyk jou wyk. Is jou wykskomitee aktief? Doen hulle verslag en ja, is jy doelgerig en dra positief by tot die welvaart van die dorp en raad? Wat het jy al in jou 20 jaar as raadslid bereik? My vraag aan jou is: Het julle ’n skoon oudit gekry? Is daar finansiële ongerymdhede? Het jou raad ’n gesonde administrasie? Indien enige antwoord positief is, hoekom huil jy oor die donse op jou kop en vergeet dat jy goed lyk deur ’n goeie administrasie.

Jou 20 jaar as raadslid beteken nie jy ken van of is bevoeg om oor ’n professionele bestuurder mond te spoel nie. Wees dankbaar jy het een van die top-stadsbestuurders in die land wat die vyfde grootste begroting doeltreffend bestuur.

Hierdie man hou daarvan om in spanverband te werk. Nou ja, jaag hom weg, en wie wil jy daar sit? Dryf jy ’n verskuilde agenda?

Sterkte aan die bestuur van Drakenstein-munisipaliteit. Die taak is groot, moeilik en soms ondankbaar.


Vriend, nie vyand,

Noord-Kaap

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article