Die strewe na perfek wees, beter wees, in wees, normaal wees en gesien wees is seker nou maar in die meeste van ons se DNS verweef. Gaan kyk maar nog ’n keer so deur ons huidige samelewings- prentjie. Daar is die heeltyd ’n gejaag na die bogenoemde wees-goeters in die een of ander vorm. Ek kan verstaan dat dit ’n doodnatuurlike verskynsel blyk te wees, want ons is nou maar eenmaal mens en soms, net soms, doen daardie bietjie erkenning, daai bietjie in die kollig wees ons menslike ego die wêreld se goed!

Waar ek egter die streep trek, is met daardie oormatige beheptheid met die wees-goed. Dis hier waar ek my hoekom -vrae begin vra. Dis ook hier waar ek my stopknoppie druk en ook die wat-vrae begin vra. Wat is ons definisie van perfek wees, normaal wees en beter wees? Is dit daardie prentjiemooi beeld van die ou of meisie in die gim of by ’n skoonheidskompetisie?

Die perfekte lyf, mooi gesig en vel, die perfekte spierwit tande en gladde hare wat gereed is vir ’n sjampoe-advertensie. Voeg daarby die nuutste kar, ’n huis in ’n spogbuurt en ’n werk waarvan die 350 mense wat maandeliks in ’n ry staan, net kan droom.

Ek moet dit beklemtoon dat daar niks mee fout is om ambisieus te wees nie. Jy het gaan studeer vir daai werk waarin jy tans is en jy werk ekstra hard vir daai moontlike bevordering. Jy werk hard aan jouself om goed te voel oor jouself.

En daarmee is daar absoluut geen fout nie. Dis egter die deel waar ons alles aanpak om ander ’n punt te probeer wys wat ek nie altyd so lekker verstaan nie. En as die ander mense nie so lekker in daai perfekte prentjie van jou inpas nie, dan word daar op hulle neergesien. Soms baie subtiel, maar daai “haai foeitog” gee jou hele spel weg.

Dis ’n bietjie van ’n verligting om op te merk dat ons Suid-Afrikaanse samelewing darem ook al ’n entjie gevorder het met hierdie wees-tendens.

Dit wil vir my voorkom asof daar ’n meer verdraagsame houding is teenoor veral mense wat anders mag lyk of doen. Hoe dan anders, want ons leef in ’n multi-kulturele samelewing waar elkeen sy plekkie in die reënboognasie van ons het.

Daar is egter nog baie ruimte vir verbetering, want soveel kere word die mense wat anders is, met verwysing na geslag, gewig, status in die samelewing, gestremdhede, ensovoorts, die middelpunt van bespreking in ons eie private groepies. Is andersheid en anders wees nie juis van die dinge wat in ons mooi land gevier moet word nie?

Ek het so ’n diepe waardering en trots vir al ons mede-Suid-Afrikaners wat aan die Paralimpiese Spele deelgeneem het. Wat ’n viering van skaamteloos anders wees!

Ons nuut gekroonde Mej. Suid-Afrika is nog ’n mylpaal wat ons saam vier . . . die eerste dowe skoonheidskoningin in die geskiedenis van die kompetisie. Wat ’n prestasie! Daar is soveel ander voorbeelde wat ek kan noem uit ons Suid-Afrikaanse konteks, maar die punt is ek hoop dat dit ons almal nog meer sal inspireer om ons andersheid in verskeidenheid te vier.

My stille gebed daarmee saam is dat daardie wees-goeters in ons lewe meer gebalanseerd sal wees en word.

Want . . . as ons almal stil gaan word, wil ek glo ons sal agterkom dat ons almal eiesoortige gebreke het. Dat ons almal net mens is. Dat ons almal eintlik maar net daarna strewe om ’n doelgedrewe lewe te lei, gelukkig te wees in dit wat ons doen en die liefde en vreugde te smaak van hulle wie vir ons spesiaal is.

Dis daai na-binne-kyk-oefening wat ons tot die besef laat kom dat daar absoluut niks fout is met anders wees nie. Anders lyk, anders wees en anders doen maak die deure vir kreatief wees oop. Dit herinner ons daaraan dat ons elkeen uniek is en genoegsame ruimte moet laat vir elkeen om hom of haar spontaan en kreatief uit te leef.

Ek het so ’n paar weke gelede oudergewoonte my lang ent langs die see gaan stap. Groot was my verbasing om te sien hoe ’n driepoothond lewenslustig op die strand baljaar. Ek het geen gebrek raakgesien nie . . . net ’n brak vol lewenslus en ’n gelukkige dierehart!

Nog ’n entjie verder sien ek ’n sigbaar oorgewig jongman met sy instrukteur langsaan.

Hierdie jongman werk hard daaraan om sy balans in die lewe te vind. Hy werk daaraan om sy gesondheid weer op dreef te kry. Ek sien nie die oorgewig raak nie. Ek sien ’n jongman raak wat genoeg omgee vir homself.

My laaste raaksien oomblik was twee haweloses. Dis vroegoggend. Al twee staan met ’n tandeborsel in die mond om die eerste belangrike takie vir die dag te verrig.

Ek sien nie ’n hawelose raak nie. Ek sien my medemens raak wat die belangrikheid van persoonlike higiëne besef.

Mag ons, voordat ons die wees- goeters wil doen, net eers mens wees . . . gestroop van enige goeters of bagasie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article