Die ma van een van die jong paartjie in hul twintigs wie se voertuig Saterdag (31 Augustus) by ’n kruising in Jan van Riebeeckweg naby Mbekweni gerol en hulle toe deur ’n groep mans gewapen met messe en pangas oorval en beroof is, sê dit is skokkend dat die rowers geen simpatie vir die kinders getoon het nie.
Die paartjie was onderweg na familie in Wellington toe die ongeluk omstreeks 17:00 die middag naby die Vlakkeland-kruising plaasgevind het.
Zelna Feast van Eeden, ma van die 24-jarige jongman wat die voertuig bestuur het, het haar skok in ’n Facebook-inskrywing gedeel oor hoe die vermeende rowers geen genade vir haar seun en sy vriendin getoon het nie.
Sy het aan Paarl Post vertel dat die twee op pad was uit Franschhoek om na die rugbywedstryd tussen die Springbokke en All Blacks by haar huis in Wellington te gaan kyk.
“Hy het my net ná vyf van sy vriendin se foon af gebel. Hy was histeries en geskok, so ook was ons as ouers, en ons het toe dadelik na die toneel gejaag.”
Sy het gesê met hul aankoms was die groep omstanders – hoofsaaklik mans – besig om die voertuig wat gerol het, te plunder.
Hulle het haar seun en sy vriendin gedreig en teen daardie tyd reeds verskeie goed uit die voertuig gesteel, het sy vertel.
“Hulle het toe slaags geraak met my en my man ook. Hulle het regtig geen simpatie getoon met die kinders en wat pas met hulle gebeur het nie.
“Ek het sy vriendin na my kant toe gegryp. Haar hande het gebloei terwyl bloed uit my seun se kop gevloei het.”
Die polisie is in daardie stadium volgens Van Eeden reeds oor die ongeluk verwittig, maar dit was ’n verkeersbeampte wat toe tot hul redding gekom het.
Sy vertel dat die omstanders egter selfs met die verkeersbeampte slaags geraak het.
“Hulle was gewis nie bang nie. Die verkeersman het verskeie kere gevra hulle moet uiteen gaan. Hulle het nie gereageer nie.
“Ek raak skoon bang as ek dink wat sou gebeur as hierdie ongeluk net ’n bietjie later sou plaasvind – indien dit sou donker wees.
“As hulle braaf was om so iets helder oordag te doen, wil ek nie weet wat met ons kinders sou gebeur het indien dit donker was nie,” het ’n bekommerde Van Eeden gesê.
Benewens die ligte beserings wat die paartjie opgedoen het, is hulle ongedeerd ná die voorval.
Nie net is die voertuig geplunder nie, maar die rowers het glo ook op klere en ander kleiner items beslag gelê.
Van Eeden het gesê sy wil motoriste daarop attent maak dat daardie kruising nie veilig is nie.
Paarl Post het by nadere ondersoek gevind dat verskeie voorvalle van rooftog en pogings om voertuie in die omgewing van Mbekweni te kaap, wel op sosiale media aangemeld is.
Die Mbekweni-polisiekantoor, waar hierdie voorval aangemeld is, het teen druktyd nog nie op Paarl Post se navraag gereageer oor of dele van Jan van Riebeeck as brandpunte vir misdaad geïdentifiseer is nie.





