’nSomber atmosfeer het die afgelope naweek oor die Paarl toegesak toe twee vierjarige kinders in twee afsonderlike voorvalle doodgery is. Om te sê dat hul families deur die tragedie verpletter is, is ’n onderbeklemtoning van die warboel emosies wat hulle ervaar.
Vir klein Adré Raats (4) en sy familie was dit ’n gewone Saterdag (7 September). Hy en sy ouers, Robyna Raats en John-Lee Wilson, het saam met sy twee broers van Wellington af Paarl toe gekom om tyd saam met sy ouma, wat op ’n plaas in die Agter Paarl-gebied woon, deur te bring.
Raats vertel alles het die middag net nadat hulle inkopies gedoen het, so vinnig gebeur.
“Ons het uit die dorp gekom nadat ons inkopies gedoen het. Ons het toe met ’n taxi op die Agter Paarl-pad gery en daar by die plaas afgeklim waar my ma woon. Die taxi het gestop en die guard het uitgeklim. Hy het my oudste seun en vir Adré uitgehaal, want hulle het die naaste aan die deur gesit, sodat John-Lee ook kon uitklim om die sakke aan te vat. John-Lee het toe die sakke begin aanvat en die tweetjies het agter hom gestaan. Toe hy die tweede keer sakke by my en my ma, wat in die taxi was, wil neem, toe hoor ons net die slag. My oudste seun sê hy het probeer keer, maar hy het Adré se arm misgegryp. Die taxi het aan die linkerkant van die baan gestaan, in die rigting van Agter-Paarl. Adré het toe agterom die taxi gehardloop en is deur ’n bakkie getref. Hy het op die regterkantse baan beland.”
As gevolg van die impak waarmee Klein Adré getref is, is hy op slag dood. Dit is ’n oomblik wat sy ouers altyd sal bybly en is nie ’n mooi herinnering nie.
“Ons het nie geweet watter kant toe nie. Ons was deurmekaar op daai oomblik. Die mense was saam met ons hartseer. Daar was verskriklik baie mense; baie boere wat ons bygestaan het. Ek weet nie hoe om dankie te sê vir al die mense se ondersteuning nie,” vertel Raats.
Hoewel dit ’n bitter moeilike tyd vir haar is, sê Raats sy het nie ’n keuse as om sterk te wees vir haar ander twee kinders nie, veral die jongste een vir wie sy nog borsvoed.
Wilson se trane vloei vrylik wanneer hy terugdink aan Saterdag.
“Adré was my alles. Jissie, ek kan hom nie genoeg beskryf nie. Hy was vol lewe, regtig. Hy was ons inspirasie en was by ’n Christelike skool in Wellington. Ek onthou hy het nog vir my gesê: ‘Pappa, ek is ’n koning se kind’. Ek is baie hartseer oor die verlies. Hy was ’n liefdevolle kind en ek sal hom vir ewig mis. Dis hoe ek hom wil onthou en nie soos wat ek hom op die toneel gesien het nie. Ek kan nie beskryf hoe ek op die toneel gevoel het nie. Ek het in my kop gevoel ek kon die man iets aandoen, maar ek het nie die krag daarvoor gehad nie.”
Die paartjie sê hul agtjarige seun, wat die hele voorval sien afspeel het, toon nog nie regtig enige emosie oor wat gebeur het nie. Hulle meen dit gaan seker met tyd nog gebeur.
Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder vir die Paarl-polisie, het die voorval op die Agter-Paarl-pad bevestig.
“Met die polisie se aankoms op die toneel is ’n vierjarige seuntjie dood aangetref. Volgens ooggetuies is die oorledene deur ’n taxi langs die pad afgelaai en hy het omstreeks 12:50 oor die pad gehardloop voor ’n aankomende Toyota Hilux, wat die taxi verbygesteek het, beland. Hy het op die toneel aan sy beserings beswyk. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.”
In ’n afsonderlike voorval is Starlin Heswick (4) Sondagmiddag (8 September) omstreeks 16:30 in Springbokstraat, Chicago, doodgery. Haar ma, Malony Juries, is in dieselfde voorval ook getref. Juries het wonderbaarlik die ongeluk oorleef, maar is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem.
Chantal Lamberts, ’n niggie van Juries en ook die familie se woordvoerder, sê die familie is in stukke ná die tragedie.
Sy vertel dit was op Sondagmiddae ’n gewoonte van Malony en Starlin om na die krieket te gaan kyk wat in die Chicago-woonbuurt gespeel word.
“Ons het verneem die 19-jarige, wat die ongeluk veroorsaak het, het die motor uitgetoets vir ’n mechanic in Chicago en die remme was glo foutief.
“Malony en Starlin was op pad van waar hulle die krieket gekyk het, om die straat oor te steek.
“Hy het teen ’n geweldige spoed aangery gekom en Malony het probeer om haar dogtertjie te red. Sy het alles probeer om die kind uit die straat te stoot, maar met die probeerslag het Malony haar grip verloor en Starlin het in die lug getrek en op ’n vullishoop op die oop stuk veld langs Orleansvale Primêr beland.
“Dit was traumaties vir ons om die toneel te sien. Starlin het nog gelewe, maar ons het gewag vir die ambulans. maar met hul aankoms was sy reeds dood. Toe ons op die toneel kom, was Malony al deur ER24 gestabiliseer en hulle was toe reeds op pad met haar hospitaal toe. Malony is in hierdie stadium nog nie bewus dat haar dogtertjie oorlede is nie.”
Lamberts sê verder Juries het baie seergekry in die ongeluk.
“Sy het kopbeserings opgedoen en in hierdie stadium word sy geïnkubeer. Ek was Maandag by haar in die Paarl-hospitaal en sy het deur die genade van God deur die nag gekom.
“Ek het met haar gepraat en sy is nie in ’n soort koma waar sy nie bewus is van wat aangaan nie. Ek het haar naam genoem en sy het haar skouers beweeg.”
Juries is Maandagmiddag per helikopter na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. Lamberts het gisteroggend bevestig dat sy “beterskap” toon.
André Heswick, Starlin se pa, is ook diep deur die voorval getref en is gebroke.
Lamberts beskryf klein Starlin as ’n mense-mens met die mooiste persoonlikheid. “Sy was baie geheg aan haar ma en hulle twee was onafskeidbaar. Starlin was ook baie lief vir haar suster, Melnique, wat ’n graad 8-leerder aan New Orleans Sekondêr is. Hulle is ’n baie hegte gesin en oral waar Malony was, was Starlin ook.”
Lamberts voeg by die 19-jarige wou glo wegjaag, maar is deur omstanders aangekeer.
Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos polisie, het die 19-jarige as Laydon Adams identifiseer. “Hy is Maandag in hegtenis geneem en het Dinsdag in die Paarl-landdroshof verskyn. Speurders van die Paarl-Oos-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.”





