Die jaarlikse Burgemeesterstoernooi vir juniors (seuns o.16) het verlede Sondag met agt deelnemende spanne begin.
Die klubs wat vanjaar deelneem, is Orchard United (gasheer); Quickies; Clovers; Spartans; Young Titans; Hartwig Lions; Quinn United en View Pro’s.
Wedstryde sal oor een beurt van 15 boulbeurte op ’n weg-en-tuis-basis gespeel word.
Volgens die toernooikoördineerder, Mervin Hermanus, voorsien hy ’n puik toernooi waar die klubs hul allerbeste sal gee om as kampioen gekroon te word.
View Pros het verlede Sondag met Hartwig Lions afgereken terwyl Quickies gou die Quinn geklop het.
Clovers was aan die wenkant teen Titans en Orchard het teen Spartans geseëvier.
Wedstryde gaan Sondag voort met View Pros wat teen Quickies in Riverview speel terwyl Quinn United op Edengarden teen Lions speel.
Titans sal teen Orchard op Ryderpark speel terwyl Spartans teen Clovers op Nuweland sal speel.
Die wedstryde begin om 11:00.



