Theswill Ruiters, die skrumskakel van die Young Standards, probeer Saterdag deur ’n gaping glip in hul tweedespan-uitklopwedstryd in die Daljosafat-stadion. Die wedstryd het gelykop met 22 punte elk geëindig, maar Standards het wel na die halfeindstryd deurgedring.Foto:


Die Paarlstreek se eerste ronde uitklopwedstryde het min verrassings opgelewer en dis slegs die tweede span, die 2024-ligawenner Young Gardens, wat deur Violets verras is en hulle die wedstryd in ekstra tyd met 25-20 verloor het.

Young Standards en Laer Paarl se tweede spanne kon ná ekstra tyd nog nie ’n wenner oplewer nie en Young Standards 2 het ná 90 minute se spel deurgedring op grond van die meeste drieë. Die wedstryd eindig gelyk op met 22 punte elk.

Allandale 2 het Simondium 2 gemaklik met 35-12 en Rangers 2 die span van Riverstones 2 met 42-13 geklop.

In die eerstespan-afdeling het die wedstryd tussen Young Standards en Riverstones vuurwerke opgelewer en is in naelbytstryd deur Young Standards met 18-12 gewen.

Hierdie wedstryd was tot aan die einde in die weegskaal met Riverstones se volgehoue aanvalle op die doellyn en Young Standards se desperate verdediging wat op die ou einde die verskil gemaak het. Standards het twee drieë gedruk terwyl Riverstones se punte met strafskoppe aangeteken is.

Young Gardens 1 het vir die glips van hul 2de span vergoed en Violets 1 met 56-19 verslaan. Rangers 1 het Simondium 1 verspot maklik met 61-0 geklop, en die 2024-ligakampioen, Laer Paarl, het min teenstand teen Allandale 1 ondervind en op ’n drafstap met 52-22 gewen.

Die halfeindstryd word Saterdag in die Faurestraat-stadion gespeel:

13:00 – Violets 2 t. Allandale 2

15:00 – Young Standards 2 t. Paarl Rangers 2

17:00 – Young Gardens 1 t. Paarl Rangers 1

19:00 – Young Standards 1 t. Lower Paarl 1

. Die kwalifiserende Boland- klubs vir die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie is onlangs aangewys.

Abbotsdale, Caledon, Ceres, Darling, Eagles, Robertson Town, Newtons, Safcol (die verdedigende kampioen), Saldanhabaai, Young Spurs, Villagers Worcester en Vredenburg is die spanne wat vanjaar sake om die Sanlam-Boland-klubkampioentitel gaan uitspook.

Benewens die Top 12-kompe­tisie vir die Grootuitdaagbeker, is daar ook ’n Sanlam-Boland- Super 16-kompetisie vir die Streekuitdaagbeker sowel as ’n Sanlam-Boland- Super 10-kompe­tisie vir die Gemeenskapskild.

Verder is daar vanjaar ook ’n nuwe toevoeging tot die uitspeel­toernooi – die Sanlam-Boland- Super 8 vir vroue.

Die Top-12-uitspeelwedstryde begin op 12 Oktober, waarna die halfeindronde en die eindronde op 16 November en 23 November onderskeidelik in die Boland-stadion in Wellington gespeel sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article