’n Hemelse lenteaand met ’n drietal klankkunstenaars gaan binnekort die Taalmonument se intieme Tuinteater in ’n eenmalige moet-hoor-ervaring onder die sterreprag omtower.
Die gewilde en bekroonde Refentse, Elandré én Andriëtte se piekniekkonsert op Saterdag 30 November is boonop die hoogtepunt van ’n dag om die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se 50ste bestaansjaar in te lui met die bekendstelling van ’n fantastiese feesprogram vir 2025.
Volgens die ATM-direkteur, Michael Jonas, is die doel van volgende jaar se vieringe om Afrikaans as ’n nasionale bate te bevorder deur onder meer die gedeelde, inklusiewe ontstaansgeskiedenis van die taal te belig en te vereer.
“Ons wil dit doen deur die monument as inspirasie voor te hou waar ons fokus op kultuur, natuur en plesier juis verpersoonlik wat ons in hierdie verband bereik,” sê hy.
“Dié uiteenlopende kunstenaars se ongelooflike musiek is ’n bewys van wat moontlik is. Ons gaan in die volgende maande net voortbou daarop.”
Hy moedig ook almal aan om die instelling se webtuiste en sosialemediakanale te volg of op hul nuusbrief in te teken om op hoogte te bly van die jaarprogram.
Gaste is welkom om hul eie piekniek en drankies (geen glas) te bring of vooraf ’n piekniekmandjie by die Suikerkan by 082 216 2510 of per e-pos na info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie bistro sal ook verversings by die geleentheid verkoop.
Onthou warm klere en ’n flits. Helaas word geen honde, vure of stoele toegelaat nie. Volop veilige parkering is gratis beskikbaar. Speelparke en buitelugspeletjies is vir kinders beskikbaar.
Die konsert vind by die Taalmonument op Paarlberg van 18:00 tot 21:00 plaas (hekke open om 17:00) en kos slegs R280 per persoon.
Om die belewenis so uniek moontlik te hou, is net ’n beperkte aantal kaartjies beskikbaar. Bespreek dus so gou as moontlik aanlyn by quicket.co.za.. As jy onvergeetlike oomblikke en tonele pragtiger wil verewig, is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se gevorderde werksessie met die fotografie-afrigter Peter Haarhoff op Saterdag 5 Oktober die perfekte oplossing.
Die kursus vind by die Taalmonument op Paarlberg van 09:00 tot 16:00 plaas en kos slegs R400 per persoon, wat ’n gratis besoek aan die monument asook verversings en bywoningsertifikate insluit.. Skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum.





