Vir ’n ma van Gouda is dit ’n bitter pil om te sluk dat kanker verlede jaar by haar jong seun gediagnoseer is. Ten spyte van Leigh Hendricks se diagnose veg hy moedig teen die siekte.
Volgens Brulaine Hendricks het haar 11-jarige ’n groot liefde vir perde. Hy het graag tyd saam met die perde deurgebring totdat hy eendag terwyl hy gespeel het, baie seergekry het.
“Leigh het uit ’n groot bosagtige boom gespring en wou op die perd spring, maar op dieselfde oomblik het die perd gehardloop. ’n Tak het in Leigh se rug vasteek en afgebreek. Ons het hom na die Porterville-hospitaal geneem.”
Hendricks vertel nadat die dokter Leigh ondersoek en behandel het, het hy aan haar gesê dat hulle ongelukkig nie al die stukke van die tak uit sy rug kon kry nie. Die dokter het aanbeveel dat Hendricks haar seun se toestand moet monitor.
“Ná drie maande het sy testes begin swel en sy maag het erg gepyn. Ek het hom na die naaste kliniek geneem en ’n verpleegster het hom ondersoek. Leigh is toe na ’n dokter verwys en dié dokter het ons na die Paarl-hospitaal verwys. Toe ons daar kom, het hulle verskeie toetse gedoen en gesê hulle vermoed dit is TB-kliere.
“Die hospitaalpersoneel het ons na ’n kamer geneem en gesê hulle moet nog bloed trek. Nadat die bloedtoetse se uitslag gekom het, het hulle gesê ‘Mammie, ons het slegte nuus; Leigh het kanker.’ Hulle het my getroos en gesê dit is nie my skuld nie en dat dit die een of ander tyd sou ontwikkel. Ek het so baie gehuil.”
Leukemie is by Leigh gediagnoseer. Hy is kort daarna vir kankerbehandeling na die Tygerberg-hospitaal verwys.
“Sy behandeling het op 9 Mei 2023 begin. Van daai tyd af is ek en Leigh in die Tygerberg-hospitaal. Hy kon nie reg loop nie en het gelyk soos een wat ’n brand oorleef het. Dit is alles deur die chemo veroorsaak. Hy kry steeds behandeling.
“Ons het eers vir drie maande by die hospitaal gebly, toe word dit ses maande en dis nou agt maande dat ons hier is. Ons kom net huis toe wanneer die dokter sê ons kan huis toe kom.”
Hoewel Leigh se siektetoestand baie moeilik is vir Hendricks om te aanvaar, is sy dankbaar dat haar kind se gesondheid baie beter is. Sy hou vas aan haar geloof en is baie dankbaar aan God. Hy het ook reeds ’n operasie aan sy testes ondergaan.
Hendricks word tans deur die plaaslike organisasie Little Fighters Cancer Trust ondersteun.
Ter afsluiting van Kinderkankerbewustheidsmaand waarin die kollig gedurende September op kinderkanker geval het, bring Leigh se verhaal soveel hoop.
Enigeen wat ’n skenking van enige vorm aan Leigh of selfs Little Fighters Cancer Trust wil gee, kan die organisasie by pm@littlefighters.org.za of 084 099 1136 kontak.





