Die 16-jarige Tinneke Louw van die Paarl kon onlangs haar liefde vir bak en brou met die res van Suid-Afrika deel.
Dié gr. 11-leerder aan die Hoër Meisieskool La Rochelle was deel van seisoen 1 van die televisieprogram Taste Master Junior. Dit is onlangs op SABC 2 uitgesaai.
Wat Tinneke se deelname nog meer opwindend gemaak het, is die feit dat sy aan die eindronde van die kompetisie deelgeneem en met die derde plek weggestap het.
“Ek is baie trots op myself dat ek die derde plek behaal het. Ek het dit nooit verwag nie. Toe ek ingeskryf het, het ek nie eens gedink ek gaan inkom nie. Ek het sommer dadelik gedink dit is lekker, maar ek dink nie ek gaan dit baie ver maak nie. Ek het dit toe tot in die eindronde gemaak en ek is so gelukkig,” sê Tinneke.
“Die hele ervaring was amazing. Ek moet sê die mense was my gunsteling-deel. Ek meen die ander deelnemers was almal so vriendelik en ook die mense agter die skerms. Dit was net so lekker om al die mense te ontmoet.”
Sover Tinneke kan onthou, het sy nog altyd daarvan gehou om in die kombuis te wees en ietsie aanmekaar te slaan, hetsy soet of sout. Dit is die einste rede hoekom sy dit ook gewaag het om vir die kompetisie in te skryf en uiteindelik deel te neem.
“Ek het nog altyd daarvan gehou om in die kombuis te wees – my ma is ’n bakster. Ek het dus altyd net na haar gekyk en gesien wat sy doen en my eie goeters probeer. Nou onlangs het ek meer geïnteresseerd geraak in kook en bak, veral deur die internet. Ek het baie inspirasie deur videos en ander mense en hul kulture gekry. Nou het ek weer meer begin bak en brou.”
Die motivering agter Tinneke se baksels en brousels is eenvoudig – sy hou daarvan hoe alles net in plek val wanneer sy klaar is.
“Ek hou van die uitdaging en die kreatiwiteit wat ek in die proses kan gebruik. Natuurlik is die eindproduk ook altyd lekker en as jy nou bak of kook, het jy ná die tyd altyd iets lekker om te eet. Ek hou van die kreatiwiteit van bak en goeters doen.”
Elmarie en Wessel Louw is ongelooflik trots op hul dogter, veral omdat sy nie bang was om haar talent te deel nie.
Elmarie bedryf haar eie tuisbakkery, Ella’s Cakes and Sugar Art.
“Ek dink dit was regtig ’n ongelooflike ondervinding. Ek meen, as mens en baker het sy in hierdie proses ongelooflik gegroei. Dit was regtig ’n goeie ondervinding, leerskool en groeikans vir haar as mens.
“Sy het baie by my geleer, maar ook baie op die internet. Die internet is mos fantasties deesdae,” sê Elmarie.
Hoewel Tinneke nog besin oor haar planne vir die toekoms en watter loopbaan sy wil aanpak, het sy reeds ’n paar idees in gedagte.
“Ek is nog nie heeltemal seker wat ek ná skool wil doen nie, maar ek dink ek wil gaan studeer – dalk meganiese ingenieurswese.
“En dan wil ek aanhou bak en brou en ook sulke videos op die internet maak.”





