Die Paarl-krieketklub moes tweede viool speel op die Durbanville- sportterrein toe hulle verlede Saterdag vasgeval het teen Durbanville KK (WP) en Pacaltsdorp United KK (SWD) in die T20-klub se streekstoernooi.

Durbanville het Sondag ook maklik teen Pacaltsdorp gewen om met twee bonuspunte as die onbetwiste Wes- Kaapse kampioen aangewys te word.

Paarl se wedstryd teen Durbanville (217/3) is ontwrig deur verbroude vangkanse, wat veroorsaak het dat Fritz de Beer (kaptein) die wedstryd oorheers het met 103 lopies van 52 balle (9×6, 11×4). De Beer is met sy telling op 1 misgevat, en later ’n verdere twee keer, voordat Herschelle Poggenpoel in die laaste boulbeurt van hom ontslae kon raak. Ruben Senekal (65 n.u.n. 5×4, 3×6) het nog sout in die wonde gevryf, terwyl Taywin Adams (4-0-39-2) met die beste boulsyfers gespog het.

Paarl (123) het die wedstryd met 94 lopies verloor, nadat slegs JJ van der Sandt (36, 3×4, 1×6) en Adrian du Toit (22) die mas kon opkom met die kolf.

Teen Pacaltsdorp United (123/7) het Paarl se kaptein, Luke Philander (2-0-7-2), gesorg vir die deurbraak, terwyl Poggenpoel (4-0-22-2) ook met die bal beïndruk het. Bradley Carolus (31, 3×4, 2×6) en George van Heerden (27, 3×4) se bydraes genoeg was om Paarl (wat 96 gehaal het) met die kous oor die kop huis toe te stuur.

Dié Saterdag speel Paarl in die Premierliga se 50-boulbeurt weg teen Van der Stel KK, die reserwespan tuis teen Van der Stel II en die derde span weg teen Bella Vista.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article