Anroux Marais, die Wes-Kaapse LUR vir polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, het ’n besluit deur die polisie se nasionale leierskap om die geskorste voormalige provinsiale hoof van misdaadintelligensie, Mzwandile Tiyo, terug in sy pos te herstel en hom aan te beveel om vroeë aftrede te neem teen sterkste veroordeel.
Tiyo, wat ook in ’n stadium die bevelvoerder van die Paarl-polisiekantoor was, is in Augustus vanjaar die trekpas gegee te midde van ’n vlaag bewerings van wangedrag.
Een bewering hou verband met ’n voorval by ’n taverne in Mbekweni aan die einde van verlede jaar toe sy dienspistool en skootrekenaar glo uit sy voertuig gesteel is.
Daar word beweer dat hy en twee ander polisiebeamptes hul ampte en staatshulpbronne gebruik het om die “verdagtes” op te spoor, te ontvoer, aan te rand en hulle daarvan beskuldig het dat hulle die vuurwapen en skootrekenaar uit Tiyo se voertuig gesteel het.
Tiyo het blykbaar nooit die diefstal by die polisie aangemeld nie.
Netwerk24 berig dat ingeligte bronne destyds gesê het gespesialiseerde toerusting wat selfoonseine kan onderskep, is in die soektog gebruik.
Daar is toe ’n raad van ondersoek belê om Tiyo se bevoegdheid vir sy amp te ondersoek te midde van die bewerings, waarna hy uiteindelik in Augustus vanjaar afgedank is.
Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee belas met polisiëring, het verlede week gesê dié komitee maak kapsie teen die besluit om Tiyo weer aan te stel.
“Hierdie is ’n man wat by ernstige misdade betrek word en onbevoeg bevind is om sy pos te beklee.
“Nou word hy aangemoedig om vroeë aftrede te neem.
“Die integriteit van die polisie sal in ernstige oneer verval as die polisie se leierskap voortgaan op hierdie trajek. Skelms moet eenvoudig uit die polisiemag uitgeroei word,” het Cameron verlede week gesê.
Cameron het verder die besluit as “onlogies” bestempel en gesê dit bemoeilik die polisie se pogings om goeie verhoudings met gemeenskappe te handhaaf.
Hy het verder verwys na ’n nasionale instruksie van 2017 wat uiteensit dat lede van die polisie wat ’n hangende strafregtelike of departementele ondersoek teen hulle het nie om vroeë pensioen aansoek kan doen nie.
Marais het op haar beurt verlede week gesê haar departement sal hom tot die hof wend indien Tiyo wel soos die leierskap besluit heraangestel word.
“Dit is ’n skande en ’n belediging. Ek is woedend oor Tiyo se heraanstelling, en die Wes-Kaapse regering sal met alle mag wat tot ons beskikking is teen hierdie besluit veg,” het Marais in ’n verklaring gesê.
“Dit is ’n skandelike stap deur die nasionale leierskap van die polisie. Ons sal al die opsies tot ons beskikking gebruik om die besluit te beveg. Dit sluit per definisie die howe in, indien alle ander opsies nie die korrekte uitwerking sou hê nie.”





