Partye eis aksieplan vir ‘broeiende krisis’ rondom vullis in Drakenstein

Opposisiepartye in die Drakenstein-munisipaliteit eis ’n aksieplan vir wat hulle bestempel as ’n broeiende krisis in die munisipaliteit se afvalbestuurafdeling. Foto: Drakenstein-munisipaliteit


Die ANC en VF Plus in die Drakenstein-munisipaliteit eis ’n aksieplan oor wat die munisipaliteit gaan doen oor dit wat die opposisie as ’n “broeiende krisis” in die munisipaliteit se afval-bestuursafdeling bestempel.

Die partye het op ’n onlangse raadsvergadering vrae asook ’n formele mosie deur die VF Plus geopper waarin hulle onder meer wou weet hoekom daar gedurig vertragings in die verwydering van vullis is.

Paarl Post het verlede jaar breedvoerig berig oor die vertragings, wat in daardie stadium deur die munisipaliteit toegeskryf is aan vullisverwyderingstrokke waarvan die kompakteerders onklaar geraak het.

Moutie Richard, die ANC se leier in die raad, asook André Fourie, die leier van die VF Plus, wou op die onlangse raadsvergadering weet of daar ’n tekort aan personeel of werkende toerusting is, wat tot die swak bestuur van afval in die Drakenstein-vallei bydra.

Fourie het vandeesweek aan Paarl Post gesê dit is belangrik dat belastingbetalers “waarde vir hul geld” kry.

“Ons het die munisipaliteit sterk hieroor aangespreek.

“Vullisverwydering is ’n diens wat die munisipaliteit voorsien en waarvoor die inwoners betaal. Nou betaal jy daarvoor, maar jy kry nie die diens nie.

“Daar is baie grondwetlik voorgeskrewe dienste waarop Suid-Afrikaners geregtig is, maar as jy ’n inwoner van ’n munisipaliteit is, is daar vasgestelde funksies waarvoor belastingbetalers moet betaal en is die verwagting tog dat dienste gelewer sal word,” het Fourie gesê.

“Daar is ook ’n ander komponent en dis oortydbetalings vir elke vragmotor wat laat loop. Oë is gerek, maar niemand kon vir ons sê hoeveel oortyd (indien enige) aan werkers betaal is nie,” het hy bygevoeg.

Volgens Fourie is die verwagting dat hul mosie binnekort op ’n portefeuljekomitee-vergadering bespreek word en dat terugvoering op ’n volgende vergadering gegee sal word.

Hy het verder gesê ’n munisipale amptenaar het by ’n vorige aangeleentheid persoonlik aan hom erken dat die munisipaliteit minstens drie ekstra vullisverwyderingstrokke kort en dat dit sowat R18 miljoen sal kos.

“Hierdie inligting is met die relevante partye gedeel, maar daar het niks van gekom nie. Ons sal met die opkomende begroting graag wil sien waar die munisipaliteit se prioriteite lê.

“Ons is veronderstel om te weet hoeveel werkende vragmotors daar is, en indien enige van hulle stukkend is, moet ons weet wat die rede daarvoor is.”

Die munisipaliteit het in Februarie verlede jaar gesê dat hy in daardie stadium altesaam 17 voertuie het wat vir vullisverwydering aangewend kan word. Hy kon egter nie sê hoeveel van die 17 wel in ’n werkende toestand is nie, maar het gemaan dat inwoners moet let op watter soort afval hulle in vullisdromme gooi aangesien dit dikwels die rede is hoekom kompakteerders onklaar raak.

Dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, het op die Januarie-raadsvergadering erken dat vullisverwydering een van die kerngebiede is waarop die administrasie in die nuwe jaar gaan fokus.

“Afvalbestuur, pype wat bars, slaggate en die instandhouding van parke is van ons grootste probleme. Ons kan nie die nuwe jaar ingaan en nie uit ons lesse van die afgelope jaar leer nie.

“Wat afvalbestuur betref, gaan ons gewis vanjaar ’n heeltemal ander benadering gebruik. Ek het reeds met die burgemeester hieroor gesels.

“Een van die goed wat ons bespreek het, is die doeltreffendheid van ons EPWP-program. Ons kan nie daarmee voortgaan voordat mense aangestel word om toesig oor hierdie werkers te hou nie.

“Ons bestee jaarliks R20 miljoen van ons eie geld aan die EPWP-werkers. Maar kry ons waarde vir ons geld?

“Die plan is dus soos volg: Wanneer die nuwe begroting in Julie in werking tree, sal toesighouers in die onderskeie EPWP-afdelings aangestel word om te verseker dat die werk reg gedoen word, dat teikens bereik word en dat ons toerusting na omgesien word,” het Leibbrandt gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article