Nataniël gaan die gehoor op Wellington behoorlik betower.


Suid-Afrika se gunsteling kaalkop klong, Nataniël, tree op 19 Februarie om 19:30 op by die NGK Wellington-Noord se saal. ’n Optrede hiér is altyd baie spesiaal vir Natanël, want hy besoek die geliefde dorp uit sy kindertyd – Wellington!

Alhoewel Nataniël in Grahamstad gebore is, lê sy wortels diep in die Swartland waar hy groot geword het in Riebeeck-Kasteel.

Nataniël het vandeesweek aan Paarl Post vertel dat sy Oupa en Ouma op Wellington gewoon het waar sy oupa by die Hugenote kollege gewerk het. Hulle het in die onderste verdieping van Huis Samuel gewoon.

“Ek het elke vakansie van my kindertyd daar gekuier en het Wellington en Donkiebos geken soos die palm van my hand. Ook die Andrew Murray kerk – daar het ek jare later die orrel gespeel vir my ouma se begrafnis.

“My niggies en nefie het ook op Wellington gewoon, my oom het by die SAD gewerk.”

Verder vertel Nataniël dat hy kan onthou hoe hy as jong seuntjie al agter sy oupa geloop dwarsoor die hele kampus aangeloop het, ure gespeel in die klipgebou wat lyk soos ’n kasteel en in die kelders waar daar tonne ou boeke was.

“Die res van die tyd was in Ouma se massiewe kombuis waar ek leer bak en kook het. Ek onthou nie die winkel nie, maar iewers op die dorp het ons elke dag die beste plaasbrood op aarde gaan koop.

“Ek het ook baie tyd in die Paarl spandeer waar die res van die familie gewoon het.”

Nataniël sien daarna uit om weer op Wellington te kom kuier.

Hy beloof om sy gehoor, soos altyd, te vermaak met stories, musiek en kostuums. “Ek is ’n storieverteller en sanger, en dit sal nooit verander nie. Ek sorg altyd dat ek goed doen wat nie voorheen in die omgewing gehoor is nie.”

Hierdie heerlike vroeg-in-die-jaar konsert bestaan uit stories in Nataniël se unieke styl, asook musiek, oud en nuut, bekend, immergroen en oorspronklik. Fantasie, humor, waarhede en wyshede, kwessies en kwellinge, vrae en antwoorde, al die elemente uit die Nataniël-skatkis word saamgebring!

Hy deel die verhoog met Steinway-pianis, Charl du Plessis.

Koop dus nou jou kaartjies vir hierdie pragkonsert by www.seatme.co.za teen R290 per persoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article