Paarlberg gaan op 1 Maart behoorlik rock met Francois van Coke, Leah en Snotkop wat onder andere by die derde Paarlberg-fees sal optree.


Kom wikkel daai boude op 1 Maart by die Faurestraat-stadion in die Paarl wanneer van die beste Afrikaanse musikante in die land by die derde Paarlberg-fees optree.

Die wonderlike uitsig van die Paarlberg van die feesterrein af is iets wat hierdie fees net nog meer uniek maak – saam met sy astronomiese vermaaklikheidsprogram met al die grootste name in die musiekbedryf.

Die organiseerders, Franco Davids (Hennie’s Paarl) & Dirkie Gildenhuys (Afrikaans Oppi Platteland) het kragte saamgespan om ’n vermaak-geleentheid te skep om die gees en karakter van die Paarl en sy mense vas te vang en almal vir ’n reuse-kuier in die middel van die dorp bymekaar te bring.

“Die rede hoekom die Paarl ’n wonderlike plek genoem word, is nie net as gevolg van suksesvolle skole in die dorp nie, maar omdat die dorp die hart van die Boland is, en ons gaan hierdie gesegde met ’n fees soos min probeer regverdig,” sê Gildenhuys.

“My familie, vriende en my eie sakeonderneming is in die Paarl, dus het ek dit goedgedink om ’n fees te begin waar almal betrokke kan wees en nou, ná drie jaar, is die reaksie oorwel­digend en word die fees as een van die grotes in die Kaap en vir seker die grootste in die Paarl gesien,” sê Davids, ’n stigterslid van die Paarlberg-fees.

Die fees bied ook ’n wyntuin, BBP-ervaring, kindervermaak en stalletjies aan.

Die dag se musiek sluit in optredes deur Dani Villé, Henru & Schwabie, Leah, Riana Nel, Die Piesangskille, Elandré, Juan Boucher, Rooksein, Eloff, Droomsindroom, Biggy, Appel, Riaan Benadé, Snotkop en Fokofpolisiekar.

Kaartjiepryse is soos volg: Skolier R225; VIP skolier R750; algemene kaartjie: R299; dubbelkaartjie: R550; en BBP-kaartjie R1 495.

. Besoek kaarkies.co.za vir besprekings.

. Vyf Paarl Post-lesers kan elk ’n dubbelkaartjie na die fees wen. Besoek ons Facebook-blad, vind die aanlyn advertensie oor die Paarlberg-fees en like en share die advertensie, tag ’n vriend en maak seker jy volg Paarl Post se Facebook-blad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article