Inwoners van Drakenstein was die afgelope tyd erg onthuts met die bekendmaking van die 2024-eiendomswaardasies.
Talle huishoudings se eiendomme het met meer as 60% gestyg en vrese word nou uitgespreek oor hoe dit hul eiendomsbelasting op 1 Julie vanjaar gaan beïnvloed.
Die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting (Wet 6 van 2004) se Algemene Riglyne (Maart 2020) word kortliks hier verduidelik.
Munisipale eiendomsbelasting is ’n sent-bedrag in die rand wat op die markwaarde van eiendom gehef word. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika gee aan munisipaliteite die bevoegdheid om eiendom in hul regsgebied te waardeer en te belas. Alle eienaars van belasbare eiendom is vir die betaling verantwoordelik.
Munisipale eiendomsbelasting word bereken deur die markwaarde van die eiendom met ’n sent-bedrag in die rand-koers wat ’n munisipale raad bepaal het, te vermenigvuldig.
Byvoorbeeld: As die markwaarde van ’n eiendom R50 000 is, en die sent-bedrag in die rand-koers is R0,015 (wat 1,5 sent is), is die bedrag verskuldig vir eiendomsbelasting R50 000 x 0,015 – dus R750 vir die hele jaar, wat beteken dat die eiendomseienaar elke maand R62,50 (dit word bereken deur R750 deur 12 te deel aangesien die jaar 12 maande het) aan die munisipaliteit sal betaal.
Die plaaslike eiendomswaardeerder Eric Marias verduidelik ook hoe eiendomswaardasies werk:
’n Algemene waardasie, soos hierdie een, word in terme van nasionale wetgewing elke vier jaar gedoen. Die belasbare waarde van ’n eiendom bly onveranderd gedurende die volgende vier-jaar-termyn, indien geen verandering in die status van ’n eiendom voorkom nie. Dit kan dus vir Jan en Alleman lyk asof die styging in die waardasie dramaties is, maar eintlik weerspieël dit die styging oor vier jaar. In die loop van die vier jaar word die tarief (die sogenaamde sent-in-die-rand-tarief) jaarliks aangepas om tred te hou met die raad se begroting vir elke jaar. Indien ons, vir die doeleindes van die bespreking, aanvaar dat die munisipaliteit se begroting jaarliks met inflasie tred hou, dan behoort die belasting met dieselfde persentasie toe te neem.
Hoe word die tarief vasgestel?
Dit bly ’n komplekse berekening waarin die raad talle aspekte in ag moet neem, maar in sy mees elementêre vorm is dit die verhouding tussen die totale belasbare waarde en die begroting; wat uitgedruk word as die sent-in-die-rand-tarief.
Met die inwerkingtreding van ’n nuwe algemene waardasie soos hierdie, waar die belasbare waardes, gegewe die vier-jaar-periode, met sê 20% toeneem, maar die raad se begroting neem, ter illustrasie, net teen inflasie van sê 6% toe, kan dit beteken dat die raad die tarief met 14% kan verlaag.
Die werklikheid is egter dat binne ’n munisipale gebied soos dié van Drakenstein (wat ongeveer 52 000 eiendomme behels en wat oor een van die mees komplekse en gediversifiseerde eiendomsamestellings beskik) is die verandering in die mark-omstandighede oor so ’n vier-jaar-periode nogal wesenlik. Dit kan beteken dat een woongebied se waardasies ’n groter styging kan toon teenoor ’n ander wat minder gewild is. Dit is dus die taak van die munisipale waardeerder om die neigings in billike waardasies te weerspieël.
Marias sê die belastingbetaler moet nie kyk na die styging in waardes nie, maar moet eerder vra: “Is my waardasie billik? Sal ek my eiendom teen daardie waarde verkoop?”
Praat met ’n eiendomsagent wat u woongebied goed ken. Sy mening word altyd ondersteun deur wat in die mark aangaan.
. Inwoners het tot 28 Maart tyd om vertoë teen hul waardasies aan die munisipaliteit te rig.




