‘Vervalle munisipale eiendomme kry aandag’ – Drakenstein-munisipaliteit

Die ou Nederburg-kliniek in Paarl-Oos is een van die problematiese en vervalle munisipale eiendomme in Drakenstein. Foto: Rasaad Adams


Die Drakenstein-munisipaliteit het vandeesweek gesê hy is besig met ’n omvattende hersiening en evaluering van die stand van alle munisipale eiendomme en het genoem dat verskeie opsies oorweeg word vir hoe die probleem met gevandaliseerde en vervalle geboue opgelos gaan word.

Volgens die munisipaliteit is hy veral bekommerd oor die stand van drie vervalle eiendomme in die Paarl, asook die Weltevrede-sportterrein in Wellington, wat oor die jare ook onder vandalisme gebuk gegaan het.

Hoewel die munisipaliteit nie ’n lys kon verskaf van presies hoeveel eiendomme hy oor Drakenstein heen besit nie, het Seraj Johaar, die uitvoerende direkteur vir korporatiewe sake en beplanning, gesê die meeste geboue word aan organisasies verhuur.

“Dit word aangewend vir die doeleindes van klein tot medium grootte sakeondernemings, maatskaplike welsyn en gemeenskaps- en sportontwikkeling.

“Hierdie fasiliteite word goed versorg en gereelde inspeksies word uitgevoer.

“Daar is egter fasiliteite soos die Weltevrede-sportgronde en die Klein Nederburg-kliniek wat gevandaliseer is.

“Daarbenewens is een huureenheid deur onwettige inwoners in ’n toestand van verval gelaat, naamlik die Blakestraat-huis in die Paarl, wat intussen beveilig is.

“Slegs een ander fasiliteit bly vakant, naamlik die Shanoor-gebou in Jan van Riebeeckweg in die Paarl, as gevolg van ernstige strukturele skade, erfenisoorwegings en die volhoubaarheid daarvan.

“Daar is ook een saak waar ’n uitsettingsbevel ten gunste van die munisipaliteit toegestaan is, maar dit word steeds deur die betrokke inwoner betwis,” het Johaar gesê.

Hy het nie verder oor dié uitsettingsbevel uitgewei nie.

Paarl Post het verlede maand berig die munisipaliteit het ná ’n lang stryd en verskeie hofgedinge uiteindelik sy sin gekry om ’n gesin wat die geskiedkundige Ou Meulhuis in Blakestraat teen die hange van Paarlberg beset het, by wyse van ’n uitsettingsbevel te verwyder.

Die uitsettingsbevel is aan die einde van November verlede jaar uitgevoer nadat die gesin van die veroordeelde munisipale werker Samuel Cupido volgens die munisipaliteit vir etlike jare “onwettig” daar gewoon het.

Sedert 2013 het die munisipaliteit die gesin by wyse van verskeie hofbevele uit die eiendom probeer kry.

Die verwyderde gesin het die huis in ’n ernstige vervalle toestand gelaat.

Volgens Johaar is daar reeds in planne belê om die gebou op te knap en dit te in kantoorruimte vir die munisipale instandhoudingsafdeling vir munisipale geboue om te skep.

“Die enigste manier om te verseker dat fasiliteite goed versorg word, is deur te verseker dat dit bewoon word deur organisasies, individue of die munisipaliteit self.

“Ons het in die algemeen nie ’n probleem met onwettige besetting van munisipale fasiliteite nie.

“Die munisipaliteit is tans besig met ’n omvattende hersiening van al ons munisipale geboue en ons oorweeg verskeie opsies of oplossings om gevandaliseerde, verswakte en/of vervalle geboue te hanteer,” het Johaar verder gesê.

Volgens hom sal die munisipaliteit voortaan ongemagtigde bewoners by wyse van uitsettingsbevele verwyder.

Hy sê intussen beveilig die munisipaliteit sy eiendomme deur sekuriteitspersoneel aan te stel.

Wetstoepassers voer ook gereeld patrollies in sekere gebiede uit.

André Fourie, ’n VF Plus-raadslid in Drakenstein, het by navraag gesê sy party sal die kwessie rakende munisipale eiendomme by die stadsbestuurder opper en ’n bateregister oor die stand van sulke eiendomme eis.

“Daar is heelwat liefdadigheidsorganisasies en dié wat hulself tot maatskaplike werk beywer wat by hierdie eiendomme kan baat. Die munisipaliteit kan dit teen ’n bekostigbare prys aan hierdie organisasies verhuur.”

Hy sê dit is belangrik dat rekord gehou word van hoeveel eiendomme leeg staan om sodoende die verval en moontlike vandalisering daarvan te voorkom.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article