Die VGK Zionskerk in Klein Drakensteinweg in Paarl het Saterdag (1 Maart) sy nuwe dominee, Granville Saaiman (34), en sy gesin verwelkom.
Volgens Saaiman sien hy daarna uit om saam met die gemeente hand aan hand te werk terwyl hulle ook die werk van die Here bevorder. Hy sê saam met sy gemeentelede wil hy ook die groter gemeenskap van Paarl dien.
“My fokus is om die jongmense in ons kerk en ook in die breë gemeenskap te bedien, want die kerk behoort direk betrokke te wees by die lewe van die gemeenskap. Omdat ek nuut hier by die gemeente begin het, is my visie om saam met die gemeente te groei, om die identiteit van die gemeente te verstaan en om saam met die gemeente ’n droom na te jaag waar ons verder kan bou op ons geestelike groei.”
Saaiman vertel hy is gebore in Ceres waar hy saam met sy ouers en suster gewoon het totdat sy pa oorlede is. Met sy pa se afsterwe was Saaiman nog ’n jong seuntjie van ses jaar oud. Hy en sy ma het toe na Simondium verhuis terwyl sy suster in Ceres agtergebly het waar sy in ’n koshuis gewoon het.
“Ek het by Klein Nederburg Sekondêr skoolgegaan. Nadat ek gematrikuleer het, is ek na die Universiteit Stellenbosch toe waar ek teologie studeer het. Toe ek klaar is by Stellenbosch, het ek vir ’n paar maande oorsee gegaan na Duitsland om my tweede meestersgraad daar te doen. Ek het teruggekom en toe word ek beroep deur VGK Steenberg. Dit is ’n gemeente in die suidelike voorstede. Ek sou op 20 Maart ses jaar by die vorige gemeente gewees het, maar toe aanvaar ek die beroep VGK Zionskerk toe.”
Hy meen sy ma en suster was oor die jare vir hom ’n goeie ondersteuningsnetwerk.
“Ek is deur die samelewing gedwing om onafhanklik te wees en om na myself te kyk, maar natuurlik met my ma se bystand, ondersteuning en gebede.”
Saaiman is getroud met Nicole (nèè Hankey), wat in murg en been ’n Paarliet is.
“Ek het ’n voorhuwelikse seuntjie, Kiran. Hy is nege jaar oud en woon in Tulbagh. Dan het ek en Nicole ’n seuntjie saam en sy naam is Daniel. Daniel word op 20 Maart twee jaar oud. Ek en Nicole het in 2021 ontmoet en ons het in 2022 getrou. In Junie is ons drie jaar getroud.”
Saaiman meen dit is vir hom ’n opwindende tyd wat voorlê met die nuwe taak wat aan hom toevertrou is om VGK Zions te lei. Hy wil ook diegene bemoedig wat dalk mismoedig geraak het.
“Somtyds raak ’n mens mismoedig en jy voel dinge gebeur nie soos wat jy wil hê dit moet gebeur nie. Ons wil dalk sekere dinge op ons tyd hê, maar die Here weet wat hy vir ons in gedagte het. Miskien moet ’n mens net bid en geduldig wag. Ek is baie opgewonde om saam met my nuwe gemeente ’n pad te stap. Dit is die Here se kerk en ek wil onder sy leiding die gemeente lei.”
Saaiman het Sondag (2 Maart) sy intreepreek gelewer.


