Huis Pêrelberg in Bothastraat gaan sy deure aan die einde van die jaar sluit. Foto: Huis Pêrelberg/Facebook


Ná byna twee dekades van algehele versorging en omsien na diegene wat niks vir hulself kan doen nie, gaan die versorgingsoord Huis Pêrelberg in Bothastraat, Paarl, sy deure aan die einde van die jaar moet sluit.

Martie Krynauw, eienaar en bestuurder van die tehuis, sê: “Dit is vir my ’n geweldig moeilike besluit om te neem omrede my inwoners, hul families en die personeel soos deel van my familie is. ’n Mens raak geheg aan hulle en ek het vir 19 jaar alles vir Huis Pêrelberg en sy inwoners gegee.”

Volgens Krynauw is daar egter ’n paar redes waarom sy tot die besluit gekom het om die tehuis se deure vir altyd te sluit, maar die hoofrede is dat die erf hersoneer moet word.

Volgens Practice Group, ’n stadsbeplanningskonsultantmaatskappy, beteken hersoneer “dat die stuk grond herklassifiseer moet word om binne ’n nuwe sone te val volgens die beperkings en grondgebruiksregte van die sone”. In die geval van Huis Pêrelberg is dit in ’n woongebied geleë.

Krynauw vertel sy het in 2006 Huis Pêrelberg begin en het die dienste van PJ le Roux Stads- en Streeksbeplanners bekom om haar te help met die aansoek om hersonering by die Drakenstein-munisipaliteit.

“Die aansoek is toe deur die Drakenstein-munisipaliteit afgekeur, maar hulle het vir my ’n vergunningsgebruik van vyf jaar gegee om te begin met die besigheid. Daarna het ek en PJ le Roux weer ’n paar maal probeer en om hersonering aansoek gedoen, maar dit was nie suksesvol nie. Die Drakenstein-munisipaliteit het my egter elke keer ’n vergunningsgebruik van vyf jaar gegee om te kan voortgaan. Op 8 April 2021 het die Drakenstein-munisipaliteit egter vir my ’n skrywe gegee om te sê dat hulle weer vir my ’n vergunningsgebruik vir vyf jaar gaan gee, maar geen verdere vergunningsgebruik gaan ná die vyf jaar weer toegestaan word nie. Die finale datum is 6 Februarie 2026.

“Die Drakenstein-munisipaliteit sê ek moet dan weer aansoek doen om hersonering, maar ek het geen versekering dat dit goedgekeur gaan word nie. Die aansoek kos ook baie geld, wat ek nie nou het nie. Daarom het ek besluit om dit te los.”

Krynauw sê die swak ekonomie speel ook ’n groot rol in die besluit wat sy geneem het. Sy meen dit is vir haar onmoontlik om die styging van haar maandelikse uitgawes en inflasie ten opsigte van die bestuur van die tehuis van die inwoners te verhaal.

Krynauw sê indien sy inwoners se maandelikse huurgeld verhoog word, gaan dit beteken dat baie van hulle nie verder in die tehuis sal kan aanbly nie, omdat hulle dit nie sal kan bekostig nie. Dus voel Krynauw is die beste besluit om eerder die tehuis te sluit en om op haar persoonlike lewe te fokus.

Behoefte aan private sorg

“Die afgelope 19 jaar het ek alles vir die tehuis gegee. My eie persoonlike lewe het daaronder gely, want dit is ’n voltydse werk en ’n mens is nooit eintlik af nie. Ek word vanjaar 60 jaar oud en het besluit dat ek nou gaan klaarmaak om meer tyd aan my gesin en myself te gee. Ek dink ek verdien dit.”

Sy voeg by dat onderhandelings tans aan die gang is met partye wat belangstel om die besigheid oor te neem. “Die samesprekings is in ’n sensitiewe stadium en ek wil dit nie graag openbaar maak nie.”

Rudy du Pont en sy vrou, albei van België, het aan die einde van 2021 na Paarl geïmmigreer, omdat versorgingskostes hier billik is.

Hy sê nuus oor die sluiting van die tehuis, indien die besigheid nie oorgeneem word nie, is baie ontstellend vir hom.

“Dit is nogal ondenkbaar dat Huis Pêrelberg besig is om te sluit. Aangesien die Paarl teen ’n taamlike tempo groei, sal die behoefte aan huise soos hierdie net toeneem. Dit is dus ’n groot skande vir die munisipaliteit om dit te doen. Ek moet vra wat gaan hier aan in die Paarl? Ek wonder of die burgemeester bewus is van dit alles. My vrou is al een jaar in Huis Pêrelberg. Sy word in Junie 71 jaar oud.

“Ons het na Suid-Afrika gekom omdat ons 24 / 7 private sorg hier kon hê, wat ons die helfte kos van die prys wat dit by die huis in België kos. So dis hoekom ons drie jaar gelede hierheen gekom het.”

Navrae is aan die munisipaliteit gerig waarop Seraj Johaar, uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste van Drakenstein, sê: “Drakenstein-munisipaliteit se tydelike afwykingsgoedkeuring-periode, wat hier betrekking het, verval op 8 Februarie 2026. Met ander woorde, Huis Pêrelberg het tot 8 Februarie 2026 die geleentheid om vir permanente grondgebruiksregte by die munisipaliteit aansoek te doen, wat die tehuis in staat sal stel om nie sy deure te sluit nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article