WELLINGTON – Die Sanlam-Boland-Kavaliers het Sondagmiddag op ’n bloedwarm Boland-stadion hul tweede SA Beker-wedstryd teen die Griffons van Welkom met oortuiging beklink nadat hulle die besoekers 56-23 geklop het. Die kwik het tot meer as 38 grade gestyg, maar dit het nie die tuisspan gekeer om ’n bonuspunt-oorwinning te behaal nie.
Die ster van die dag was ongetwyfeld die Paarliet Xavier Mitchell, wat ’n indrukwekkende vierkuns drieë gedruk het. Ten spyte van ’n onstuimige wedstryd waarin die skeidsregter, Sean Muller, altesaam agt geelkaarte en drie rooikaarte uitgedeel het, het Mitchell se spoed en afrondingsvermoë die vertoning gesteel. Die Griffons het eerste bloed geruik toe hulle reeds in die derde minuut ’n strafdoel oorgeklits het. Kort daarna het die besoekers hul voorsprong uitgebrei toe ’n strafdrie toegeken is nadat Boland twee geelkaarte ontvang het. Boland het egter vinnig teruggeslaan toe Khwezi Mafu oor die doellyn geduik het, met Juan Mostert wat suksesvol verdoel het.
Die Griffons het probeer om die Kavaliers met ’n fisieke benadering te oorrompel, maar die tuisspan het nie teruggestaan nie. ’n Sterk rolmaalbeweging het tot Boland se tweede drie gelei toe Sidney Tobias oorgeduik het. Mostert se doelskop het die Kavaliers vir die eerste keer (14-10) laat voorloop. Die Griffons het kort daarna weer punte aangeteken met ’n strafskop om die gaping tot 14-13 te verklein. Mitchell het toe sy eerste drie ná ’n uitstekende taktiese lugskop deur Louis Schreuder gedruk, met Mostert wat weer verdoel het.
Net voor rustyd is Marlon Williams met ’n geelkaart gestraf en die Griffons het die geleentheid benut om nog ’n strafdoel aan te teken, wat die rustydtelling op 21-16 in Boland se guns te staan gebring het.
Ná die pouse het Boland die tempo verhoog. Sidney Tobias het sy tweede drie gedruk – en terselfdertyd Boland se bonuspuntdrie verseker – en dit is weer deur Mostert verdoel.
Mitchell se tweede drie was ’n skouspel van spoed en krag toe hy die Griffons se verdediging oopgeskeur het.
Sy derde drie het gevolg ná ’n slim binnetoe-aangee van Mostert, wat ook die doelskop bygevoeg het om Boland se voorsprong tot 42-16 te rek met nog sowat 21 minute speeltyd oor.
Die skare het behoorlik ontplof toe Mitchell sy vierde drie druk nadat hy van byna 50 meter weg losgetrek en sy teenstanders hakskene gewys het. Mostert het weer die twee punte bygevoeg.
Boland se rotsvaste verdediging het die Griffons lank van verdere punte weerhou, maar die besoekers het uiteindelik met agt minute oor ’n verdoelde drie gedruk. In die laaste minute van die wedstryd was daar ook ’n onderbreking weens dissiplinêre probleme en spelers wat van die veld gestuur is. Lunathi Nxele het uiteindelik die laaste woord gehad toe hy oor die doellyn geduik het, met Thurlow Williams wat die verdoelskop bygevoeg het.
Die oorwinning hou die Kavaliers stewig op koers in hul SA Beker-veldtog.
Puntemakers – Sanlam-Boland-Kavaliers:
Drieë: Khwezi Mafu, Sidney Tobias (2), Xavier Mitchell (4), Lunathi Nxele
Doelskoppe: Juan Mostert (7), Thurlow Williams (1)




