Die sluier is gelig op die identiteit van die voormalige Faure & Faure-vennoot wat in April 2024 afgedank is. Conrad Coetzee staan nou sentraal in ‘n ondersoek na ‘n beweerde miljoen- randse bedrogskema wat oor etlike jare gestrek het. Terwyl ‘n strafregtelike saak deur die polisie ondersoek word, het die regspraktisynsraad bevestig dat sy eie ondersoek na Coetzee in die “finale” stadium is.

Bewerings

Coetzee het glo vir etlike jare ‘n fiktiewe “advokaat” geskep aan wie maandelikse betalings gemaak is, volgens ‘n plaaslike regsgeleerde wat vertroud is met die geskorste Faure & Faure-vennoot.

“Die bewerings is dat hy dan fakture sou laat uitmaak vir hierdie ‘advokaat’ se dienste wat aan die regsfirma gelewer is,” het die regsgeleerde op voorwaarde van anonimiteit gesê.

“Die vermoede is dus dat hierdie geld dan in een van sy persoonlike rekeninge betaal is.”

Volgens die bron het dié aktiwiteit glo vir etlike jare aangegaan.

Die regsgeleerde kon nie ‘n geraamde bedrag gee van hoeveel rand se beweerde uitbetalings gemaak is nie, maar het wel genoem dat dit glo miljoene beloop.

Ná sy afdanking het Faure & Faure, waar Coetzee in 2011 aangesluit het, met ‘n “diepgaande forensiese ondersoek” begin, waarna hulle in September verlede jaar, asook weer onlangs, aan Paarl Post bevestig het dat sy interne ondersoek afgehandel en die aangeleentheid na die Paarl-polisie verwys is.

‘n Gepaardgaande klagte is ook aangemeld met ‘n versoek dat hy strafregtelik vervolg word.

Kons. Ndakhe Gwala, ‘n wooorvoerder verbonde aan die Wes-Kaapse polisie het bevestig dat ‘n bedrogsaak tans ondersoek word.

“Sodra dit [die saak] afgehandel is, sal die senior staatsaanklaer genader word vir ‘n besluit,” het Gwala gesê.

Die firma het destyds gesê dat die afgedankte regsman reeds verlede jaar by die regspraktisynsraad van die Wes-Kaap aangemeld is.

Praktiseer

Paarl Post het verlede week berig dat “‘n afgedankte regsman” se naam weer opgeduik het nadat dit aan die lig gekom het dat hy so onlangs as Junie 2025 die Paarliet Christiaan Arnoldus Kurtz verdedig het wat van bedrog en kopie- reg-oortredings aangekla word.

LEES: Afgedankte regsman van Wellington duik weer op in bedrogsaak

Hierdie regsman, kan die koerant bevestig, is ook Coetzee.

Die regsgeleerde het volgens ‘n “notice of withdrawal,” ‘n openbare hofdokument, as Kurtz se regsverteenwoordiger namens SDP Attorneys bedank.

Dié dokument is op 24 Junie 2025 geteken en uitgereik.

Die koerant het uitgereik na SDP Attorneys om onder meer te hoor of die afgedankte regspraktisyn steeds by SDP Attorneys praktiseer, maar geen terug- voering ontvang nie.

Regspraktisynsraad

Kabelo Letebele, die senior bestuurder van kommunikasie en betrokkenheid vir die regspraktisynsraad, het destyds by navraag bevestig dat in 2024 alleen drie klagte teen Coetzee aanhangig gemaak is.

Volgens Letebele het geen van dié klagte egter van Faure & Faure gekom nie.

Letebele het ook gesê Coetzee word tans ondersoek, maar wou nie uitwei oor die aard van die ondersoek nie.

Conrad Coetzee
Conrad Coetzee verlede jaar buite die handelsmisdaadshof in Bellville toe hy nog ‘n voormalige klant verteenwoordig het. Foto: Verskaf

Opgedateerde navrae is aan die regs- praktisynsraad gestuur, onder meer om uit te vind of die regsgeleerde steeds praktiseer.

Volgens Letebele wys die rekords van die regspraktisynsraad dat Coetzee ‘n toegelate regspraktisyn is. Hy is egter tans ingeskryf op die “nie-praktiserende rol” van prokureurs.

“Hy [Coetzee] is die onderwerp van ‘n voortdurende ondersoek wat voortspruit uit klagte wat by die regspraktisyns- raad ingedien is. In hierdie stadium, en hangende die finalisering van die saak in ooreenstemming met die prosedures wat in die Wet op Regspraktyk uiteengesit word, sal die regspraktisynsraad die uitslag bekend maak sodra die proses voltooi is en die regspraktisyn behoorlik in kennis gestel is.

“Die regspraktisynsraad hanteer alle bewerings met die grootste erns, en hierdie saak is nou in die finale stadium van ondersoek,” het Letebele gesê.

Navrae is op vier verskillende platforms (SMS, WhatsApp, Instagram en Facebook) aan Coetzee gestuur, maar geen kommentaar is teen druktyd ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article