YTH Revive, ‘n samewerkende jeuginisiatief wat deur vier plaaslike kerke ondersteun word, het in die spervuur beland nadat dit aan die lig gekom het dat seksuele identiteit en homoseksualiteit tydens ‘n jeugdiens binne ‘n Christelike en Bybelse konteks bespreek is.
Die omstredenheid spruit uit bewerings dat voorbeelde wat tydens die gesprek gedeel is, moontlik onvanpas vir die jong gehoor was.
Voorbeelde
Volgens ‘n bron was twee voorbeelde wat gedeel is, van ‘n grafiese aard. Die betrokke jeugleier het na bewering ‘n geval beskryf waar hy seksuele stimulering ervaar het toe ‘n ander man in die bed waarin hy gelê het, geklim het, het ‘n bron onthul.
Die bron beweer verder dat die jeugleier ook verwys het na ‘n geleentheid toe hy, terwyl hy by ‘n kerk gewerk het, seksuele stimulering ervaar het toe ‘n minderjarige meisie op sy skoot gesit het.
Die bron het verduidelik dat die deel van sulke voorbeelde moontlik onvanpas was vir ‘n jeuggehoor – veral vir minderjariges wat dalk nog nie ‘n begrip van seksualiteit het nie.
Die betrokke jeugbyeenkoms het op 8 Februarie in die Paarl plaasgevind en is deur tieners tussen ongeveer 13 en 18 jaar oud bygewoon, het YTH Revive in sy terugvoer bevestig.
‘Om tieners te ondersteun’
Luidens die organisasie word die jeugsessies gereël om “tieners te ondersteun in hul geestelike groei, emosionele welstand en begrip van die uitdagings wat hulle in die moderne wêreld ervaar”.
“Die doel van die bespreking was nie om sensasie te skep of onnodig by seksuele sake stil te staan nie, maar eerder om jongmense te help verstaan watter werklike worstelinge baie individue ervaar rakende identiteit en versoeking, en hoe geloof hulle deur daardie uitdagings kan lei,” luidens die terugvoering.
Volgens YTH Revive het die jeugleier tydens die diens elemente van sy persoonlike getuie-
nis gedeel, insluitend sy geloofsreis en die uitdagings wat hy ervaar het in sy worsteling met identiteit en versoeking.
“Die bedoeling met die deel van hierdie getuienis was om jongmense te help verstaan die innerlike stryd wat sommige individue ervaar en om te demonstreer hoe geloof in Jesus Christus sy reis gevorm het en genesing en rigting in sy lewe gebring het.”
Die organisasie het egter erken dat die voorbeelde verskillend geïnterpreteer kon word en beter geformuleer moes word.
“Hoewel ons glo dat die voorbeelde wat gebruik is, nie noodwendig eksplisiet van aard was nie, erken ons dat sommige individue dit so kon ervaar of interpreteer.
“Met terugskouing kon ander voorbeelde gebruik gewees het, of beter formulering kon gehelp het om die toneel duideliker te skets en die bedoelde boodskap meer gepas oor te dra.”
Ander bekommernis
Nog ‘n punt van kommer wat die bron geopper het, is dat ouers of voogde nie vooraf of volledig oor die inhoud van die byeenkoms in kennis gestel is nie.
Die bron voer aan dat ouers moontlik die geleentheid sou wou bywoon of hul kinders vooraf wou voorberei indien hulle bewus was dat temas soos homoseksualiteit bespreek sou word.
Die bron het ook aangevoer dat die kwessie, nadat dit aangemeld is, nie voldoende aandag geniet het nie en dat ‘n uitnodiging aan ouers om ‘n vergadering by te woon, nie spesifiek die aard van die bespreking uiteengesit het nie.
Volgens YTH Revive is ouers op 15 Februarie via ‘n WhatsApp-boodskap ingelig dat terugvoer ontvang is en dat sommige ongemak ervaar het oor die getuienis wat gedeel is.
Ouers is toe na ‘n vergadering genooi om die saak openlik te bespreek.
“Die doel van die vergadering was om aandagtig te luister, bekommernisse te erken en saam te werk aan verbeterde prosesse en kommunikasie vorentoe,” het die organisasie gesê.
YTH Revive het erken dat meer spesifieke formulering in die uitnodiging moontlik vir sommige ouers verkieslik sou wees.
Sewe ouers het glo die vergadering bygewoon. Volgens die organisasie het die gesprek vir die ouers die geleentheid gebied om hul sienings openlik te deel.
Hoewel sommige ouers gevoel het dat dele van die getuienis moontlik te eksplisiet vir sekere kinders was, het die meerderheid aangedui dat hulle dit nie persoonlik so ervaar het nie.
Na afloop van die vergadering is ooreengekom dat terugvoer regstreeks met die betrokke ouers gedeel sou word, eerder as op die breër WhatsApp-groep, om die integriteit van die gesprek te respekteer.
Een van die uitkomste van die vergadering is dat ouers voortaan vooraf ingelig sal word wanneer sensitiewe onderwerpe bespreek word.
“Hierdie kommunikasie sal ‘n kort verduideliking van die onderwerp insluit en ouers die geleentheid gee om te besluit of hulle verkies dat hul tieners daardie spesifieke sessie bywoon al dan nie.”
Die organisasie het bygevoeg dat ouers altyd welkom is om jeugbyeenkomste by te woon en dat dit die doel bly om ‘n veilige,ondersteunende ruimte vir tieners te skep terwyl in vennootskap met ouers gewerk word.





