Sebastian Abrahams, voorsitter van die Boland-rugbyunie (BRU) se Skeidsregtersvereniging, sê nadat ‘n wantrouemosie teen hom en sy ondervoorsitter, Allen Williams, nie geslaag het nie, sal hy vorentoe daarop konsentreer om enige verdeeldheid wat dalk in die vereniging bestaan, uit die weg te ruim.
Die mosie teen Abrahams en Williams het Dinsdagaand (25 November) op ‘n vergadering gedien.
‘n Groep skeidsregters het op 3 Oktober in ‘n brief aan die BRU versoek dat die vergadering belê word. Dié brief is deur 10 skeidsregters onderteken.
LEES: Boland-skeidsregters eis twee hoës se koppe
In die brief voer die skeidsregters aan dat hulle vertroue verloor het in dié twee se vermoë om aan die stuur van die vereniging te wees.
Die skeidsregters maak in die brief melding van Abrahams en Williams se beweerde afwesig- heid en gebrek aan kommunikasie.
Hulle [die skeidsregters] voer verder aan dat hulle oningelig is oor gebeure omdat daar glo nie gereeld vergaderings plaasvind nie.
“Gereelde vergaderings is noodsaaklik vir die suksesvolle administrasie van ‘n vereniging.
“Die feit dat die voorsitter Saterdae by klubrugbywedstryde kommentaar lewer, is werklik ‘n bron van kommer. Het hy [ook] tyd om na skeidsregters se vertonings te kyk en raad te verskaf?
“Dit lyk asof die voorsitter vir hierdie vereniging wil voorskryf en vir sekere individue sal wys hy sal doen wat hy voel reg is om te doen. Dit is die rede hoekom dinge in hierdie vereniging besig is om uitmekaar te val.
“Dit lyk asof die voorsitter alleen besluite neem en selde ‘n mandaat van sy mede-bestuurslede kry,” skryf die skeidsregters in die brief.
Abrahams het Woensdagoggend na afloop van die mosie aan Paarl Post gesê die griewe, soos uiteengesit in die skeidsregters se brief, is nie Dinsdagaand op die vergadering bespreek nie.
“Ek dink [op ‘n persoonlike noot] kan ek met sekerheid sê dat die klagte wat in die brief verskyn, nie gestaaf kan word nie. In enige organisasie is daar mense wat ongelukkig sal wees en in hierdie geval word daar in die grondwet voorsiening gemaak om sulke ongelukkighede te opper.
“Hierdie mosie het sekerlik nou bietjie wrywing en verdeeldheid veroorsaak en my werk sal nou wees om die vereniging weer bymekaar te bring.”
Hy sê die belangrike rol van skeidsregters in die rugbygemeenskap moenie onderskat word nie.
“Skeidsregters lewer ‘n diens aan die rugbygemeenskap. Hier- die gemeenskappe verwag dat ons hierdie diens op ‘n eerlike en regverdige wyse uitvoer.
“Daar is dus nie plek vir verdeeldheid onder die skeidsregters nie en indien daar probleme opduik, moet ons verseker dat dit spoedig uitgestryk word,” sê Abrahams.
Volgens hom bly hy positief en hy sê die fokus is nou op voorbereiding vir aanstaande jaar se rugbyseisoen.





